Local news

Phodi-terrein erg vervalle

Inwoners van Modimolle is verheug oor die nuus dat daar ’n bedryfslisensie aan Waterberg Healthcare Hub toegeken is om ’n privaat hospitaal in dié dorp te vestig.

Die Phodi-Clinic in Bela-Bela, wat vir baie jare die enigste privaat hospitaal in die Waterberg was, se deure is in April verlede gesluit. Dié terrein skets deesdae ’n hartverskeurende prentjie van verval. Inwoners het gebly hoop dat die hospitaal weer sy deure sal open. Die terrein is egter verwaarloos en daar is tekens van vandalisme en plundering aan die strukture.

Die Phodi Clinic het in Augustus verlede jaar hul oorblywende 37 personeellede afgelê.

Die maatskappy, African Health Care (AHC), het die hospitaal namens die Phodiso Management Corporation bestuur. Die Pos verneem op goeie gesag dat AHC in 2021 heraansoek gedoen het vir ’n bedryfslisensie, maar daar is nog geen uitsluitsel hieroor gegee nie.

Foto’s bo en onder: Diewe het van April 2022 verskeie lugversorgers se drade genip en gestroop. Die koperpype en krane in die gebou is plek-plek al gesteel.

JeeDee Cloete, VF Plus-raadslid, het tydens die gemeenskapsvergadering op Vrydag 27 Januarie, gesê onlangse gesprekke met AHC dui daarop dat dit onwaarskynlik is dat die hospitaal binnekort sal heropen.

Die mediese toerusting van die hospitaal is nog daar, maar geen mediese dienste word in die hospitaal aangebied nie.

Die laboratorium, X-strale-afdeling en privaat dokterspraktyke wat in die hospitaal was, is intussen almal na ander persele in die dorp verskuif.

Talle inwoners kla dat die perseel ’n veiligheidsgevaar inhou omdat dit onbeman is en ongure karakters lok. Die terrein is veral tydens beurtkrag verlate en donker.

Inwoners van die Caritas Village-aftreeoord op die terrein, wat juis hul eiendom gekoop het omdat die hospitaal op dieselfde terrein waarde tot hul eiendom gevoeg het, sit nou met die hande in die hare.

Gerhard Olivier, RSRT-buurtwag-voorsitter, sê diewe het reeds verskeie plekke in die hospitaalterrein geplunder.

“Die meeste van die koperwaterpype, koperdrade, vensterknippe en stortkoppe by die ou spreekkamers en kraamsaal is gesteel.” Hy het gesê hy lê nou self daar patrollie af om toe te sien dat die terrein veilig is.

“Daar is nog geen terugvoer van AHC oor die aanstelling van veiligheidswagte nie.”

Hy het gesê die buurtwag het intussen toestemming gekry om die houtdeure vas te skroef om inbrake te keer en daar word ook beplan om die staalvensters op die terrein te verstewig.

Related Articles

Back to top button