Local news

Kommer oor tekort in voorraad van slangbyt-teengif

Die Nasionale Gesondheid Laboratoriumdienste (NHLS) het bekendgemaak dat slangbyt-teengifvoorraad landwyd baie skaars is.

Die Pos berig gereeld oor mense in die omgewing wat deur slange gebyt word. Slange is meer aktief in die warmer seisoene en omgewing.

Volgens ’n verklaring van die NHLS word die vervaardiging van teengif geraak deur buitefaktore soos kragonderbrekings, asook ’n gebrek aan ingevoerde en plaaslike chemikalieë om die entstof te vervaardig. Dit het tot gevolg dat daar ’n groot agterstand ontstaan het.

Mike Perry, stigter van die African Reptiles and Venom-organisasie, het by navraag gesê beurtkrag dra beslis by tot die tekort aan teengif. Hy het voorts gesê die Suid-Afrikaanse entstofprodusente (SAVP)-fabriek is ouer as 50 jaar en het dringende instandhouding en opgradering nodig.

Hy het gesê dit is ’n groot bron van kommer dat mediese instansies se bestellings van teengif tot ses maande agterstallig is.

Perry se organisasie verskaf vir etlike jare reeds slanggif aan die SAVP om teengif te vervaardig. Die SAVP vervaardig teengif vir ernstige slang-, skerpioen en spinnekopbyte.

“Dit beteken nie daar is geen teengif in die land beskikbaar nie, het hy gesê, maar wel dat slegs beperkte hoeveelhede vir elke instansie wat dit vir noodgevalle moet ge-
bruik, beskikbaar is.

“Die fabriek se aanvraag het lankal die produksie oorskry. Die NHLS en SAVP sal eers hul agterstande moet inhaal voordat die fabriek opgegradeer kan word anders sal daar weer ’n agterstand ontstaan.”

Hy het gesê daar is veral kommer dat veeartse ’n tekort ervaar omdat teengif eerder vir mense beskikbaar gestel kan word.

Mzimasi Gcukumana, NHLS-woordvoerder, het aan Die Pos gesê die SAVP is hard aan die werk om vir die tekort op te maak. Die SAVP is by die NHLS geaffilieer en is die enigste teengifprodusent in Suid-Afrika.

“Ons kon reeds van die provinsiale gesondheidsdepartemente en enkele privaat instansies van teengif voorsien. Ons het sedert Desember ook teengif aan 13 veeartsenykundige praktyke gelewer. Die NHLS beplan om in die toekoms teengif-banke in strategiese dele van die land op te rig.”

  • Andy Gill van Life24-ambulansdienste het voorheen aan Die Pos gesê Suid-Afrika beskik oor 166 verskillende slangspesies waarvan 77 nie-giftig is nie. Daar is 29 spesies wat se gif erge pyn kan veroorsaak en 20 ander wat dodelik is.In Limpopo kom 78 uit die 166 spesies voor waarvan nege spesies se byte baie pynlik is. Sewe van die spesies wat in Limpopo voorkom, is dodelik.

    Die gevaarlikste slange in Suid-Afrika sluit in die swart mamba, wipneuskobra, Mosambiekse-spoegkobra, boomslang, takslang, pofadder, berg-adder, horingadder, nagadder, stilettosang en skildneuskobra.

    Gill stel voor dat slagoffers van slangbyte so gou moontlik na ’n ongevalle-eenheid geneem moet word.

    Juwele en stywe klere moet dadelik verwyder word en omstanders moet probeer om die slagoffer so kalm as moontlik te hou.

    Vir meer inligting kan mense die African Snakebute Institute webtuiste besoek.

    Life 24-ambulansdienste se noodnommer is 082 040 5003. Hul nasionale noodnommer is 086 108 6911.

Related Articles

Back to top button