Local news

VLU-vroue is hard aan die woeker

Die Vroue Landbou Unie (VLU) se Warmbad-tak het die jaar met nuwe ywer én ’n nuwe bestuur afgeskop.

Die lede het op Dinsdag 10 Januarie vir Daléne van der Merwe, ’n boervrou van die New Harmony-plaas buite Bela-Bela, as gasspreker verwelkom.

Van der Merwe het gesels oor granaatvrugte se voordele en die sukses wat sy behaal het met ’n verskeidenheid produkte van hierdie rooi vrugte.

Alles van die vrug — van die pêrels (pitte) tot die skil kan in ’n produk omskep word, het sy aan die lede gesê.

Die nuwe bestuur van die Warmbad VLU-tak is Rina Steynberg (beoordelaar en sameroeper) en agter Nettie Calitz (voorsitter), Marie Oosthuizen (tesou-
rier), Gertie Oosthuizen (skakelbeampte), Elize Els (sekretaresse) en Lilian Weber (addisionele lid).

Sy het vertel dat sy uit verwerkte suiwer granaatsap konfyt, stroop, slaaisouse, uie-marmalade gegeur met granaat, asook tuisgemaakte pienk lemonade, sitrusmarmalade, lemoenkonfyt en verskeie bad- en stortitems vervaardig.

“Die granaat se geskiedenis is baie oud en kom so ver voor as die vyfde eeu voor Christus. Granate word verskeie kere in die Bybel genoem as een van die geseënde vrugte. Salomo se kroon se vorm was geskoei op die kroonvorm van die bokant van ’n granaat,” het sy vertel.

“Granate word in verskeie gelowe gebruik en staan bekend as volksmedisyne, veral in die Mediterreense lande. Die vrug se gesondheidswaarde word wêreldwyd deur wetenskaplikes besing.”

Grante is hoog in antioksidante, minerale, vesels, vitamiene en foliensuur.

Van der Merwe sê studies het bewys dat granaatsappe gesondheidsvoordele inhou vir velprobleme, chroniese siektes, breinfunksie, mondhigiëne en die beheer van artritis.

Die VLU beplan om elke maand ’n inligtingsessie by die Warmbad Dienssentrum in Van der Merwestraat in Bela-Bela aan te bied.

Die beplanning vir die VLU se mini-skou vorder goed. Die datum in Julie sal later bevestig word.

Taklede sien daarna uit om in Maart die gasheer van die VLU-streekskonferensie te wees. Dit word op Saterdag 18 Maart by die Sondela-natuurreservaat gehou. Lede van die 10 takke wat die Soetdoringstreek in die provinsie verteenwoordig, asook eregaste, sal die konferensie bywoon.

Related Articles

Back to top button