Local news

Skou wys vroue se kreatiwiteit en vaardighede

Die tafels was gepak met die een interessante artikel na die ander wat ’n mens stom laat oor die kreatiwiteit en behendigheid van diegene wat dit geskep het.

Een van die hoogtepunte op die Vrouelandbou-unie in Modimolle se kalender is hul jaarlikse miniskou en vanjaar was dit weer ’n mooi geleentheid.

Die miniskou is op Dinsdag 17 Januarie by die Abraham Kriel-kinderhuis se saal gehou met ’n uitstalling van die items wat lede deur die loop van die jaar gemaak het. Die afdelings waaraan lede kon deelneem, het hemelsbreed verskil — daar was iets vir bykans elke belangstelling en talent. In die fotografie-afdeling kon lede inskryf vir die temas “Grondpad” of “Teksture in die natuur” en diegene wat brei, het moderne kinderspeelgoed geskep. Daar is ook vrolike kindertruie gebrei en pen- en potloodsketse van insekte geteken.

Die VLU-Nylstroom-tak se voorsitter, Wilna van den Heever, saam met Helena Venter wat die meeste punte deur die jaar behaal het en Ansie Pretorius van die Vlakte-tak.

In die afdeling vir macramé-werk was daar van planthouers tot handsakke met ingewikkelde knope. Diegene wie se talente in die kombuis lê, het hul sjokoladeflenterkoekies (“choc chip”) en karamellekkers uitgestal en in die kategorie vir preservering was daar staatmakers soos soetrissiesous en kerrieboontjies. Die wenners tydens die miniskou se artikels sal deelneem aan die

Soetdoringstreek se kompetisie in Maart.

Dit is geen wonder dat hierdie groep kreatiewe vroue ses nuwe lede by hul vergadering verwelkom het nie.

Ansie Pretorius van die Vlakte-tak het gesels oor vanjaar se tema: “Positiewe denke skep ’n mooi wêreld”.

Die jaarlikse prysuitdeling vir lede wat die meeste punte tydens gereelde kompetisies ingesamel het, is ook gehou.

Helena Venter was die algehele wenner met die meeste punte en Louette de Beer is aangewys as die Vonkelvrou van die Jaar.

Die tak het ook hul bydrae vir dementia-pasiënte gemaak. Elke VLU-tak gee landswyd ’n baba-pop met bykomstighede wat aan dementia-pasiënte gegee word. Talle pasiënte wat so ’n “baba” kry om te versorg, toon rustiger gedrag en verbeterde lewenskwaliteit.

Related Articles

Back to top button