Local news

Oop kaarte: Anita pen stories vir oud en jonk neer

As kleuter het Anita Lubbe vir die kinders in haar klas stories gelees, later op laerskool haar eie kinderstories neergepen en voorgelees en nou deel sy haar digkuns en tienerverhale met die hele land.

Anita (78) kuier by Die Pos en wys haar nuutste jeugroman Drome is Bedrog, wat in November verlede jaar die lig gesien het. Met deernis beskryf sy ’n jong seun se lewensomstandighede ná ’n fratsongeluk en hoe sy familie daardeur geraak word.

Om ’n suksesvolle jeugroman te skryf, verg deursettingsvermoë en daarvan het Anita baie.

“Dit het my nege jaar geneem om die boek te voltooi, maar hier is dit nou vir almal om te geniet.”

Hierdie oud-onderwyseres vertel haar Hollandse oupa het haar op 4-jarige ouderdom geleer lees.

“Ek het op skool gehoor my opstelle is goed. My liefde vir die taal het daar begin.”

As student aan die destydse Normaal Kollege (NKP) in Pretoria was haar hoofvak Afrikaans en geskiedenis was ’n byvak.

“My dosent, Coenie Rudolph wat hoof van die departement Afrikaans was, het die wêreld van skryf vir my oopgemaak. Ek het kortverhale vir sakgeld begin skryf wat in die tydskrifte Die Brandwag en Uitspan gepubliseer is. Ek skryf as iets my tref. Emosie laat my skryf; dit is ’n uitlaatklep”

Anita het 20 jaar lank skoolgehou waarvan 12 jaar vir matriekleerders was voordat sy in 2004 die leisels neergelê het. Haar hande was ook nie stil as dit by liefdadigheidswerk gekom het nie.

“Ek was twee jaar lank voorsitter van die Maria Van Riebeeck-damesklub in Johannesburg. Ons het 12 skole in Gauteng gehelp met die projek Help die Kind. Ons het nuwe skoolklere vir hulpbehoewende kinders wat in haglike omstandighede is, gekoop met geld wat ons ingesamel het.”

Sy het nie haar skryf- en digtalent onder die maatemmer begrawe nie en verskeie kursusse aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Noordwes se Potchefstroom-kampus voltooi. Drie kinderboeke naamlik: Prinses Lara en die Miere, Toorvleidam en Jan Riekertjie Diekertjie het in dié tyd verskyn.

“Ek het in 2013 ’n ATKV-skryfskool onder leiding van die jeugboekskrywer Fanie Viljoen bygewoon en met sy aanmoediging begin skryf aan Drome is Bedrog.”

Sy en haar man, Christo, het ná haar aftrede tien 4×4-toere saam met vriende deur die land aangepak, asook in Namibië en Botswana. Hulle het ook oorsee gereis en al haar gewaarwordinge en emosie van die plekke wat sy besoek het, het gelei tot haar digbundel Landskap Reliëf met gedigte wat sy vanaf 2013 tot 2018 geskryf het.

Die egpaar het hulle in 2009 in die Zwartkloof-natuurreservaat buite Bela-Bela gevestig. Daar in haar aftreehuis sal ’n mens Anita voor die rekenaar kry of waar sy in haar tuin vroetel.

“Ek geniet die buitelug. Bergvarings is my gunsteling, maar ek maak tuin tussen klippe en het dus baie vetplante en ook broodbome.”

Sy vertel van die omgeegroep wat sy begin het. Sharing and Caring is ’n groep vroue wat elke tweede week saamkom. Ons kuier en deel ons ervaringe saam oor ’n koppie tee.”

Anita geniet ook haar vier kinders, hulle gades en haar 11 kleinkinders. Haar nuutste kleuterboek is haar eerste poging in Engels. Dit handel oor Jigsaw, ’n hond, wat geboelie word. Dan is sy byna klaar met ’n boek oor ’n jong seun wat selfdood gekies het.

“Ek sien daarna uit om nog talle boeke die lig te laat sien. Wanneer ek begin skryf of dig, kom die woorde natuurlik. Ek kan sommer vir vier ure aanmekaar voor die rekenaar sit voordat my man my roep vir ’n koppie tee.”

Drome is Bedrog is beskikbaar as e-boek by www.groep7drukkers teen R150. Diegene wat die boek wil koop, kan Anita by tel. 082 599 3434 bel.

Related Articles

Back to top button