Local news

Erfenis-organisasie snuffel Bela-Bela se verlede uit

Die Bela-Bela Heritage Organisation het die soeklig op dié dorp se geskiedenis laat val toe vergete Voortrekker-grafte in die Noodhulp-omgewing weer van nader bestudeer is.

Johan van Niekerk, skrywer en stigter van dié organisasie, het gesê geskiedenisverhale moet bewaar word.

Van Niekerk, ’n veiligheidsbeampte van Galven Sekuriteit, het verlede jaar ’n boek geskryf oor die Anglo Boere-oorlog — An unfinished line to heaven — wat handel oor treinspoorsaboteurs van die Anglo Boereoorlog (1899-1902).

Die Heritage Organisation is daarna gestig. Hy is voortdurend op soek na verhale, artifakte en plekke waar geskiedkundige gebeure volgens oorlewering plaasgevind het.

Johan van Niekerk, stigter van die organisasie, sê hy is opgewonde oor vanjaar se beoogde projekte.

Sy belangstelling is onlangs opnuut geprikkel oor verlate Voortrekkergrafte in die omgewing. Baie keer kry navorsers nie noodwendig toegang tot geskiedkundige persele nie omdat dit op privaat grond is, maar in dié geval was hy baie gelukkig.

“Ek het ’n ruk gelede gehoor van ’n aantal Voortrekkergrafte wat in ’n klein begraafplaas in die Noodhulp-omgewing is, maar min mense het kennis hiervan gedra en toegang tot die perseel was altyd ’n probleem.

“Danksy ’n stukkie geluk, die regte kontakpersoon en ’n gids is ek uit na ’n perseel langs die Platrivier.”

Die begraafplaas is in lang gras van bykans borshoogte gevind. “Die grafstene was nie duidelik sigbaar nie en ons het oral in die lang gras daarna gesoek,” het hy gesê.

“Ek kon 18 grafte tel, maar daar kan meer wees. Daar was vier grafte met vanne op — Swanepoel en Marx — wat nog duidelik sigbaar was. Hierdie vanne is ook straatname in die dorp wat daarop dui dat die persone moontlik leiersfigure in die dorp was. Een van die grafte was dié van ’n eenjarige baba Marx wat in 1858 gebore en in 1859 oorlede is.”

Die graf langs die baba s’n is vermoedelik dié van die baba se ma, MMA Marx (neé Van Heerden, 1843-1862).

Die inskrywing op die graf van ene SJM Swanepoel (1792-1866) het ook sy belangstelling geprikkel.

“Danksy navorsing het ek vasgestel dat dit waarskynlik die graf is van Stevanus (Stephanus) Johannes Marthienus Swanepoel. Hy is in 1792 in die distrik Graaff-Reinet in die ou Kaap-kolonie gebore en was deel van die oorspronklike Voortrekkergeselskap wat die kolonie in 1838 tydens die Groot Trek verlaat het.”

Aan die oostekant van die klein begraafplaas is ’n gedenkteken sigbaar wat opgerig is deur die sentrale Burgergrafte-komitee. Hulle taak was om die begraafplaas te onderhou.

“Ek vermoed dit is min of meer in 1988 tydens die 150 jaar-herdenking van die Groot Trek opgerig. Die gedenkteken is identies aan die een by die begraafplaas agter die munisipaliteit in Bela-Bela.”

Van Niekerk het uitgevind dat die omgewing waar die grafte is, vroeër jare bekendgestaan het as “Uitspan”. Dit was ’n plek waar trekkers uitgespan en gekamp het.

Die warmwaterbronne wat in 1873 deur pres. TF Burgers as staatseiendom gekoop is, was vir die vroeë trekkers baie bekend vanweë die geloof dat die warmwaterbronne helende kragte gehad het.

“Die toestand van die begraafplaas het my baie ontstel. Ek het verteenwoordigers van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gekontak en hulle het aangedui dat hulle by ’n opknappingsprojek betrokke wil raak. Ek hoop om in Maart met die projek te begin.”

• Vir navrae oor die beweging, bel vir Van Niekerk by tel. 076 356 6175.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button