Local news

Bekende slaghuis sluit ná halfeeu

Unie Slaghuis, wat dekades lank ’n baken in die sentrale sakekern van Bela-Bela was, sluit sy deure ná 51 jaar.

Unie Slaghuis het in dié tyd bekend geraak vir hul topgehalte vleisprodukte. Besoekers aan die dorp het gereeld teruggekom om veral hul heerlike biltong en droëwors te koop.

Ben en Nonna Cohen, bekende inwoners van die Waterberg, was jare lank die gesig van Unie slaghuis. Ben is egter einde verlede jaar oorlede.

Die familie het aan Die Pos gesê Ben het in Augustus 2022 die onderneming in die mark gesit as lopende sakeonderneming. Hy het in daardie stadium reeds met sy gesondheid gesukkel en is twee maande later op 80-jarige ouderdom oorlede.

Hoewel dit vir Nonna en die lojale personeellede, wat reeds baie jare deel van die slaghuis was, ’n emosionele saak is, was dit Ben se wens dat die slaghuis sy deure moet sluit indien daar nie ’n geskikte koper gevind word nie.

“Ons het hard gewerk om die onderneming se deure oop te hou. Ons het ons eie vee geslag en skaap en lam uit die Noord-Kaap ingevoer. Ons het werklik goeie vriende gemaak deur die jare wat in ons in die boerdery- en vleisbedryf was,” het Nonna gesê.

“Ek wil al ons personeel, kliënte wat ons so getrou ondersteun het, asook my kinders en hul gades — Abram en Madie asook Hyman en Lizette Cohen — en elke kleinkind uit my hart bedank vir hul ondersteuning. ’n Groter dank gaan uit aan ons Hemelse Vader vir Sy genade.”

Die familie se boerderybedrywighede op hul plaas in die Leeupoort-omgewing gaan steeds voort het sy gesê.

Van die personeellede het by navraag gesê hulle beweeg in ’n nuwe seisoen in en betree weer die arbeidsmark met nuwe verwagtinge. Die meeste van hulle was langer as 10 jaar by die onderneming betrokke en het onskatbare ervaring in die vleisbedryf opgebou.

’n Inwoner van Bela-Bela het aan Die Pos gesê die sluiting van Unie Slaghuis laat ’n groot leemte in die dorp. Die Cohen’s en die personeel het ruim bygedra tot die gemeenskap. Hulle het die skole ondersteun en nooit nee gesê wanneer hulle genader is vir borgskappe nie. Die slaghuis sluit sy deure finaal einde Januarie.


  • Unie Slaghuis was oor die jare een van Die Pos-koerant se lojaalste adverteerders. Dit is sakeondernemings soos hulle wat ook daartoe bygedra het dat ’n klein gemeenskapskoerant soos Die Pos ons deure kon oophou. Daar was nooit ’n gekibbel oor ons pryse nie, nooit probleme met hul rekening-afdeling nie en nooit klagtes oor hul advertensie nie. Ons gaan Unie Slaghuis se gereelde plekkie in Die Pos mis. Ons beste wense vergesel almal van Unie Slaghuis.

Related Articles

Back to top button