Local news

Fotografieklub wys hul jaarwenners aan

Die fotograwe van die Bosveld-fotografieklub het tydens hul laaste byeenkoms van die jaar weer verstom gestaan oor die onderwerpe wat hulle met die kamera vasgevang het.

Die algemene jaarvergadering is op Saterdag, 3 Desember by die Koffiekan-restaurant in Modimolle gehou.

Francois Venter van die Fotografie Vereniging van Suid-Afrika (FVSA) was die eregas en het die sertifikate en trofeë aan die wenners oorhandig.

Roelof Groesbeek se foto van twee bobbejane wat hurkend water drink, is aangewys as die beste foto van die jaar deur ’n senior klublid. Joane Barnard se foto van ’n hond wat deur die water hardloop, het vir haar die toekenning vir die beste foto deur ’n junior lid besorg.

Roelof Groesbeek ontvang sy toekenning van Francois Venter van die fotografie-vereniging van Suid-Afrika.

Hennie Louw is aangewys as die beste senior fotograaf en Cobus Potgieter as beste junior fotograaf. Pieter Nel, uittredende lid van die komitee, het ’n spesiale toekenning, die Meritorius Service Award, van die FVSA ontvang vir sy jarelange diens.

Die klub het ook hul nuwe komitee verkies: Lelanie van der Walt (sekretaresse en tegnies), Lizelle Koch (redakteur en tegnies), Flick Lötter (tesourier) en Ancia du Plessis (voorsitter).

Die eerste klubvergadering in 2023 sal aanlyn aangebied word op Dinsdag 17 Januarie om 18:30.

Related Articles

Back to top button