Local news

Beurtkrag, hoër heffings en woede

Suid-Afrikaners was erg verontwaardig toe die nasionale energiereguleerder (Nersa) op Donderdag 12 Januarie ’n styging van 18,65% vir Eskomkragheffings vir die 2023-2024-boekjaar aangekondig het.

Die land gaan steeds gebuk onder fase 6-beurtkrag met tot 12 ure per dag sonder kragtoevoer.

Charles Hlebela, Nersa-woordvoerder, het in ’n verklaring gesê Nersa het voor die aankondiging ongeveer 2 000 versoeke van kragverbruikers ontvang wat uitgesproke was oor die haalbaarheid van ’n styging. Dit was nadat dit aan die lig gekom het dat Eskom vir ’n 32,17%-verhoging gevra het.

Direkte Eskom-verbruikers sal vanaf April R1,74 per kilowatt/h moet opdok.

Elke munisipaliteit bepaal sy eie tarief, maar verbruikers kan weet dat dit ’n beduidende verhoging sal wees.

Henk van de Graaff, TLU Noordstreek-voorsitter en voorsitter van die Waterberg-distrik landbou-unie (WDLU), het gesê hy is self besig om oor te skakel na alternatiewe kragvoorsiening op sy plaas in die Droogekloof-omgewing.

Hy sê dit verg baie navorsing om volhoubare krag aangeskaf te kry, maar Eskom is nie meer ’n betroubare kragbron nie en kragopwekkers en sonkrag is ’n beter opsie.

“Verbruikers het eintlik geen ander keuse nie as om oor te skakel na herwinbare energie. Pres. Cyril Ramaphosa het tydens die ANC-verjaardagvieringe talle beloftes gemaak oor onder meer grootskaalse werkgeleenthede, ’n einde aan beurtkrag, groot landwye ontwikkeling en instandhouding, die bekamping van misdaad en korrupsie en dienslewering wat drasties sal verbeter,” het Van de Graaff gesê.

“Die instelling van 6-beurtkrag toon hoe belaglik hierdie beloftes van die ANC is.”

Hy het gesê faktore soos die afskryf van skuld op kragverbruik van sekere plekke kan daartoe lei dat die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) die land ’n negatiewe gradering sal gee as ’n mislukte staat wat daartoe lei sal dat beleggers hul geld elders belê.

“Die landbougemeenskap kry ook swaar as gevolg hiervan. ’n Bekende kitskosgroep moes al van sy winkels tydelik weens beurtkrag sluit en talle boere is ook reeds op die grens van wanhoop,” het hy gesê.

“Boere wat afhanklik is van elektrisiteit vir besproeiing kan nie op hierdie trant voortgaan nie. Verkoelingsgeriewe raak oneffektief, bederfbare produkte raak onbruikbaar en groot skade word gely,” het hy gesê.

“Verbruikers sal ook hierdeur geraak word wat betref die skaarsste van sekere voedselprodukte wat op sy beurt weer prysverhogings teweeg sal bring. Sekere dele van die land beleef tans versengende hittegolwe en sonder besproeiing sal noodsaaklike gewasse dit nie maak nie.”

Van de Graaff het gesê daar is geen verwagting dat die stand van sake binnekort sal verbeter nie.

“Landsburgers moet egter nie toelaat dat beleidmakers en politici hul toekoms verder steel nie.”

Related Articles

Back to top button