Local news

Ontmoet (wéér) vanjaar Die Pos se verslaggewer in Modimolle

Ronél van Jaarsveld, ’n ou bekende in Modimolle én by Die Pos, is vanjaar weer terug om stories vir die koerant uit dié geweste te skryf.

Ronél het jare lank vir Die Pos geskryf en die stories van die Modmolle- en Vaalwater-gemeenskap met deernis en oorgawe vertel.

Sy het die afgelope twee jaar ’n blaaskans van voltydse skryf geneem, maar is nou weer terug op haar pos nadat Sarita Kriek-Vosloo, wat dié werk die afgelope twee jaar gedoen het, na Gauteng verhuis het.

Ons het haar gevra om ’n bietjie meer oor haarself te vertel en dit is wat sy skryf:

“Om oor jouself te skryf, kom nie aldag maklik nie. Joernaliste is mos maar gewoonlik agter die notaboek en die kamera en nie in die kollig nie.”

Haar kinders loop nou in die spore wat sy self as kind geloop het, vertel Ronél. “En wat ’n voorreg is dit nie om kinders op die platteland groot te maak nie! Ek het in Nylstroom, nou Modimolle, skoolgegaan en skryf was nog altyd ’n groot liefde.

“In my matriekjaar het ek ná ’n meesterlike onderhoud van Freek Robinson met sy op-die-man-af manier met oudpres. PW Botha gekyk en die volgende dag huiswerk begin doen oor waar om joernalistiek te studeer.”

Ronél het aan die Technikon Pretoria gestudeer en by gemeenskapskoerante, dagblaaie, webwerwe en ’n tydskrif in Johannesburg en Pretoria gewerk voordat sy en haar man besluit het hulle harte roep hulle terug platteland toe.

“Ek sien daarna uit om weer vir Die Pos te skryf.”

Related Articles

Back to top button