Local news

Plaaslike juwelier met ’n goue hart

Dit vat fyn werk en bewese kennis om ’n goeie goudsmit te wees en dit is die beroep waarin Tanya Motk haarself die afgelope 37 jaar uitleef.

Wanneer sy elke dag haar winkel in Minaarstraat in Bela-Bela oopsluit, is sy slaggereed om kliënte te help — of dit nou met die maak van ’n spesiale stukkie juweliersware is of, soos vanoggend, waar sy moet hand gee met ’n stukkende bril.

Tanya se loopbaan het heel toevallig begin toe sy as jong meisie werk gesoek het en by ’n goudsmit in Modimolle aangeklop het. Haar eerste probeerslag was om ’n trouring te maak, vertel sy.

Sy het haar vyfjaar vakmanskap voltooi en is Olifantsfontein toe waar sy in 1991gekwaliseer het as ’n goudsmit. Dit is daar wat sy haar rooi seël gekry het, vertel sy en wys na die sertifikaat teen haar muur.

Sy kon haar eie onderneming in Bela-Bela begin met ’n R25 000-lening wat sy by die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie bekom het.

“My eerste winkel was maar bitter klein, maar die mense het my goed ondersteun. Ek het sedertdien nog nie een dag stil gesit nie. Santie Boshoff was my eerste kliënt. Ek onthou ek moes vir haar ’n ring maak en sy dra dit tot vandag toe.”

Vandag bring mense hulle ou goud of nuwe goud met ’n prentjie van wat hulle soek en Tanya doen haar bes om hulle tevrede te stel.

“Die skole ondersteun my ook. Ek verkoop trofeë en maak die plaatjies wat daarop kom. Dit is ’n vriendelike dorp. Ek kan nie kla nie.”

Tanya Motk is ’n besonder talentvolle juwelier.

Sy onthou ook die dag toe ’n man met sy valstande, wat goud ingehad het, en ’n sakkie goud by haar aangeklop het. “Ek moes vir hom ’n uil maak wat hy op sy baadjielapel wou dra,” vertel sy laggend.

Tanya is van Duitse afkoms. Haar ouers het in 1965 vanaf Duitsland in die land aangekom en sy is die jongste van drie kinders. Haar pa is so ses jaar gelede aan kanker oorlede en sy en haar ma woon saam.

“Ons praat Duits in die huis en kyk ook Duitse televisie.”

Tanya skroom nie om te vertel dat sy lief is vir sport nie. Hoewel sy vroeër jare aan verskeie sportsoorte deelgeneem het, is sy vandag steeds ’n ywerige gholf- en rolbalspeler.

Sy het eers laat in haar lewe leer gholf speel, maar geniet dit nou om elke tweede week haar vernuf op die Zebula-baan te wys. Sy is ook deel van die sakeliga van die plaaslike rolbalklub.

“Ons het 28 spanne met vier spelers in elke span — dus so 112 rolbalspelers wat saam balle kom rol. Dit is wraggies die sportsoort waar ’n mens van ’n baba tot ’n 80-jarige persoon saam sal kry. Die tannies bak pannekoek, ons les ons dors en ná die tyd word daar ook heerlik saam gebraai.”

Sy verlang terug na die dae toe Bela-Bela vakansietye druk deur vakansiegangers besoek is.

“Deesdae kom die mense nie meer dorp toe nie, hulle gaan direk na die oorde toe. In die ou dae het hulle sommer in hul swemklere in die dorp rondgestap. Daar was ook die Sonskynfees en stalletjies in die dorp wat druk besoek is.”

Die agteruitgang van die dorp is vir haar ’n steen des aanstoots.

“Kyk hoe vuil is die strate en hoe lyk ons paaie. Die gras word nie gesny nie en die bome val om, want hulle kry nie water nie.”

Sy meen dit is ’n probleem dat soveel geboue in die dorp aan eienaars behoort wat nie in die dorp woon nie.

“Dit word nie behoorlik onderhou nie. ’n Mens kan ook nie meer soos vroeër jare tot laataand werk nie. Jy moet ’n kragopwekker hê en water is ’n groot probleem. Ek maak maar elke oggend drie emmers vol water. Die probeem is daar word nie meer onderhoud gedoen nie.”

Tanya meen die mense moet hul trots terug kry.

“Jy moet weer trots wees op jou gebou of huis. Goed moet reggemaak word. Elke ou moet inspring. Maak seker jou gras is gesny en jou sypaadjie is skoon.”

Tanya sê dit is jammer die internet maak besigheid dood. Ná Covid-19 het mense geleer hulle kan nou aanlyn koop en hoef nie meer winkels toe te gaan nie.

“Besigheid gaan ook verlore as ouers stad toe ry om hul kinders daar by die skole te gaan haal op ’n Vrydag. Hulle doen dan hul inkopies daar en ondersteun die sakeondernemings in die dorp minder.”

Sy wys egter daarop dat dit nie veel beter oorsee is nie.

“Ander lande het ook maar hul probleme. Ons moet egter na ons eie probleme kyk en dit aanspreek.”

Of sy nou haar besig hou met die fynere detail van juweliersware maak of ’n bars hou slaan op die gholfbaan, Tanya is ’n knap sakevrou wat elke dag se uitdagings met ope arms aangryp.

Related Articles

Back to top button