Local news

Kinderhuis vat die pad see toe

Die opwinding in die drie busse wat in Desember vroegoggend vanaf die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle op pad see toe vertrek het, was iets om te beleef.

Die langpad na Summerstrand in Gqeberha (Port Elizabeth) is deur 55 jong inwoners van die kinderhuis en tien personeellede aangepak nadat hulle ’n vrygewige uitnodiging ontvang het van Irvan Tam van die Amy Bell-welsynsorganisasie. Die kinders se ouderdomme het gewissel van kleuters tot 18-jariges.

Verskeie ander borge het ook gehelp met die koop van swemklere en om padkos te verskaf. Die groep het by die President Kruger-kinderhuis in Reddersburg oorgeslaap om die pad korter te maak.

“Die hele vakansie was ’n belewenis wat die kinders en die personeel jare lank sal onthou. Bitter min van die kinders en selfs personeel, het al die see gesien. Ons is so dankbaar vir die geleentheid wat ons gegun is,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê.

Daar is min dinge wat so ’n groot indruk maak soos daardie eerste kyk oor die wye blou water van die see. ’n Groot groep kinders van die Abraham Kriel-kinderhuis het die afgelope vakansie Gqeberha (Port Elizabeth) toe gereis.

“Irvin het ongelooflik baie moeite met die kinders gedoen. Hy het studentehuise in Gqeberha (Port Elizabeth) wat hy vir ons vir akkommodasie beskikbaar gemaak het. Hy het verder alles voorsien, van drie heerlike etes per dag tot ’n verskeidenheid uitstappies.”

Die groep het nie net kegelbal gaan speel nie, maar ook ’n trampoliensentrum en waterpark besoek en die ouer kinders het stampkarretjies gery. Hul gasheer het hulle ook na ’n tehuis vir gestremdes geneem met die boodskap dat ’n mens moet uitreik na ander mense.

“Die personeel het gedurende die reëndae baie speletjies soos wegkruipertjie saam met die kinders gespeel. Ek dink ons het verhoudinge met die kinders gebou wat ons jare lank sal bybly,” het Van der Merwe gesê.

Irvan Tam van die Amy Bell-welsynsorganisasie het die kinderhuis genooi om die vakansie in Gqeberha deur te bring. Hy en sy gesin het hulle bederf met nuwe ervaringe. By hom is Gerda van der Merwe, kinderhuishoof.

“Hierdie vakansie het so baie vir ons kinders beteken. Daar het vir hulle ’n wêreld oopgegaan waarvan hulle nie geweet het nie — een wat groter is as net ons dorp. Hulle is verryk deur al die ervarings en deur die mense met wie hulle te doen gekry het.”

Tam, wat in Suid-Afrika grootgeword het, se hele gesin is betrokke by die welsynsorganisasie. Hy het by die kinderhuis betrokke geraak deur die professionele jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa), wat gereeld vleis aan die kinderhuis skenk.

Related Articles

Back to top button