Local news

‘Dolfyne’ swem in Donkerpoortdam

Stille water, diepe grond, onder draai die dolfyne rond?

In ’n boodskap wat op die sosiale media platform, Whatsapp, die ronde doen, vertel ’n ongeïdentifiseerde persoon hoewel hulle al van “varswaterdolfyne” wat in die Waterberg voorkom gehoor het, hulle nooit gedink het dat hulle gelukkig genoeg sou wees om hulle teë te kom nie.

Hulle het egter tydens ’n naweek by Metsi-Metsi Country Lodge langs die Donkerpoortdam buite Modimolle een gekry wat langs die oewer swem. Die vis was nie gesond nie en is kort daarna dood.

Op die meegaande foto’s lyk dié vis, wat in twee bakhande pas, kompleet soos ’n miniatuur-weergawe van ’n dolfyn.

Die Pos het rondgevra oor hierdie vreemde verskynsel. Linda Laubscher van Metsi-Metsi sê hulle het nog nooit self van dié visse teëgekom nie.

Kenners en hengelaars waarmee Die Pos gepraat het, vertel dat die vis wyd voorkom in Limpopo, onder meer ook in die Limpopo-, Palala-, Matlabas- en Olifantsriviere en hul sytakke. Dit is egter nie ’n varswaterdolfyn nie en behoort aan die genus Marcusenius krameri, in die volksmond bekend as ’n “bulldog fish”.

Die vis se ronde, stomp snoetjie en die vorm van sy lyf herinner baie sterk aan dié van ’n dolfyn. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biodiversiteit skryf hoewel daar verskeie visse regoor Afrika in die Marcusenius-genus is, word hierdie spesifieke vis net 20 cm lank. Dit word meestal in groepe gevind langs stadig vloeiende rivierwalle waar daar baie riete of boomwortels is.

Hierdie visse is een van vele spesies wat met ’n aangepaste orgaan elektriese pulse (EOD) uitstuur vir kommunikasie en om hul omgewing te verken, aangesien hulle dikwels snags bedrywig is.

Related Articles

Back to top button