Local news

Dit is my winkel, dis jou winkel, dis ons almal se winkel dié

Hoewel die deure van die burgerregte-organisasie, Solidariteit Helpende Hand, se Ons Winkel in Mookgophong nog nie eens ’n jaar oop is nie, het dié winkel reeds verskeie prestasietoekennings ontvang.

Joyce Kritzinger is die kontrakteur van die pragtige winkel wat geleë is langs Spar in die dorp. Sy het aan Die Pos gesê sy is nederig dankbaar om haar passie vir mense en gemeenskapsprojekte op hierdie manier te kan uitleef.

Sy het ’n brons toekenning vir die hoogste omset in Limpopo, asook die beste vordering van ’n nuwe winkel, in die provinsie ontvang.

“Ek is so dankbaar vir elke skenking wat ek ontvang het. Sonder ondersteuners sou ek dit nie kon vermag nie,” het sy gesê. Sy beplan om vanjaar van die donasies wat sy kry te omskep in “nuwe” items wat in die winkel te koop sal wees.

In ’n vorige onderhoud met Die Pos het Marianthi Botha, streekorganiseerder vir Limpopo en Noordwes, gesê Ons Winkel omskep al die goedere wat geskenk word in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Die studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer en graag verder wil studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede in Afrikaanssprekende gemeenskappe te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons Winkel dien ook as werkskepping vir die kontrakteurs wat die winkel bedryf en vir personeel wat in die winkels werk.

Ons Winkel het baie interessante en bekostigbare tweedehandse goedere, speelgoed en oudhede te koop. Kritzinger het gesê hulle ontvang skenkings van so ver as Pretoria. Die voorraad word weekliks aangevul en mooi uitgestal. Dit items is keurig versorg en skep nie die indruk van “tweedehands” nie.

Enige meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene, sporttoerusting, tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan, kan geskenk word.

Daar is tans bykans honderd van hierdie winkels landwyd.

Vir meer inligting, bel vir Joyce Kritzinger by tel. 076 900 9989.

Related Articles

Back to top button