Local news

Ons mooiste Kersherinneringe …

Lesers van Die Pos deel hul mooiste kersherinneringe.

Elkeen van ons het ons unieke herinneringe van die Kerstyd. Die Pos het by die geesdriftige lede van Klub 60 in Bela-Bela gaan kuier om te hoor watter Kersfees vir hulle uitgestaan het.

Corrie van Wyngaardt.

Corrie van Wyngaardt:

Ek dink veral aan Kersfees op my ouers se plaas anderkant Lichtenburg in die verre Noordwes waar al die familie jaar na jaar bymekaar gekom het. Ons dogters met mans en kinders het by Oupa en Ouma gekuier. Daar is baie etes voorberei. Die eerste Kersfees wat ek as kind onthou, was daar ’n speenvarkie wat met groot moeite gestop is, want Kersfees in ons familie was altyd ’n groot storie. Daar was altyd hope kos en slaaie. Die eerste geskenkies wat ek gekry het, was parfuum en klein sakdoekies wat vandag êrens in ’n boks gebêre is.

Penny en Coen Stoltz.

Penny en Coen Stoltz:

Ons seuns wou een jaar gaan diepseeduik in Phuket, Thailand. Toe hulle daar land, was daar net te veel mense en hulle het besluit om liewers na Qatar te vlieg en daar te duik. Met hul aankoms in Qatar het hulle gehoor dat hulle die tsunami-ramp, ’n wêreldgebeurtenis, met ’n halwe dag misgeloop het. Dit was die dag ná Kersfees in 2004. Ons het drie dae lank gesukkel om met hulle kontak te maak. Die Suid-Afrikaanse ambassadeur het ons gereeld gebel as hulle nog ’n Suid-Afrikaner opgespoor het. Eers ná drie dae het hulle ons bereik en is hulle ordentlik oor die foon uitgetrap vir die kommer waardeur hulle ons gesit het. Dié Kersfees-tyd sal ons altyd bybly.

Barbara en Johan Holtzhausen.

Barbara en Johan Holtzhausen:

Ons het ’n plaas in Excelsior in die Vrystaat gehad. Al die niggies, nefies en aanhangsels het kom kuier vir Kersfees. Die myngesinne van Welkom en Virginia het daar bymekaar gekom. Ons onthou veral die oorvol vrugteboorde op die plaas. Die jonger kinders het snags die boorde ingevaar en die volgende oggend op Kersdag het halfgeëete vrugte oral gelê. Daar kon 18 mense aan die groot eettafel sit en die kinders het maar oral plek gekry en gesit tydens die Kersmaal. Die kinders het ná die ete die modderdam op die proef gestel. Nadat hulle klaar gespeel het en deeglik honger geraak het, was daar altyd die geure van Ouma se gebakte brood.

Johani de Waal.

Johani de Waal:

Ek het een jaar saam met vriende Kersfees op ’n passasiersboot in Rusland deurgebring. Die Russe het baie mooi meisies en netjiese tuine, maar braai nie vleis nie. Ons het op die Volgarivier vanaf St. Petersburg (toe Leningrad) na Moskou en terug gereis. Die boot het gereeld stilgehou en dan het ons die dorpies se strate vanaf die hawens verken. Nadat ons St. Petersburg verken het, het ek terug op die boot geklim en na my kajuit gegaan. My kamerdeur se slot het op onverklaarbare wyse onklaar geraak en kon nie oopmaak nie. Met die min mense wat Engels verstaan, was dit ’n stryd om in my kajuit te kom. Uiteindelik het ek iemand gekry wat my verstaan en sy het sê: “Madame, you are on the wrong boat. This boat is leaving soon for Kiev, Ukraine.” Ná ’n uur se stres het ek die regte passasierskip in die hawe gevind. Ek het byna die reis verpas. Ek sou vandag in die bomgeteisterde Oekraïne gesit het as ek op die verkeerde boot gebly het.

Related Articles

Back to top button