Local news

Nostalgiese terugblik aan kleintyd se Kerstyd

Vir die meeste mense is Kerstyd ’n tyd van nostalgie en samesyn met hul families en hartsvriende.

Die Pos het vanjaar by twee jarelange inwoners van Mookgophong gaan kuier om te hoor hoe hulle Kersfees as kinders gevier het.

Elriza Pienaar (73) het in Namibië grootgeword in die tyd toe dit nog Suidwes-Afrika genoem is. “Ons het op ’n plaas tussen Otjiwarongo en Otavi gewoon, maar toe ek ses jaar oud was, het ons verhuis na ’n plaas tussen Outjo en Khorixas. Daar was letterlik niks nie; geen elektrisiteit nie. Voor Kerstyd is my broers die veld in en het met ’n yslike doringtak teruggekom wat ons Kersboom sou wees,” het sy vertel. Dié Kersboom is dan in ’n emmer met sand geplant en versier met handgemaakte versierings wat oor maande lank gemaak is.

Haar pa se blink sigaretboksies -en lekkergoedpapiertjies is gebruik om sterretjies uit karton oor te trek. Kreukelpapierversierings is gebruik om kleur aan die boom te bring.

Elriza Pienaar van Mookgophong het mooi herinneringe oor haar Kersfeestyd as kind in Namibië.

“Bo-aan die boom is ’n blink ster uit papiertjies gehang,” het sy nostalgies vertel.

Elriza is die tweede jongste van vyf kinders. Sy onthou hoe haar ma blikke vol koekies vir die feestyd gebak het. Op Ou- kersaand het hulle ’n Kersverhaal-opvoe-
ring gehou.

“Ons het Kersliedere gesing, want in ons huis is daar altyd baie gesing en my pa het sy mondfluitjie gespeel. Die Ovambo-plaaswerkers het voor die stoep gestaan om hul Kersgeskenke te kry.
Dit was koekies, ’n kakiebroek en -hemp en altyd ’n nuwe kam,” het sy vertel.

Die opwen-grammofoon is uitgehaal en dan het haar pa gewoonlik, tot groot vermaak van die werkers, “Don’t sell Daddy anymore whiskey” gespeel.

Op hul beurt het die werkers dan weer vir die huismense gesing.

Kussingslope is as Kerskouse gebruik wat by die voetenent van die bed vasgemaak is. Kersoggend is dit met groot opgewondenheid oop gemaak.

Elsa van der Merwe het as enigste kind Kersfees saam met nefies en niggies by haar grootouers in Christiana gevier.

Elsa van der Merwe (64) was die enigste kind en het altyd Kersfees saam met die nefies en niggies by haar oupa en ouma in Christiana gevier.

“As ek my oë toemaak, ervaar ek weer die bome, liggies, al die heerlike geure en die Kersgeskenke onder die Kersboom. Dit was ’n wonderlike tyd wat ek nooit sal vergeet nie,” het sy aan Die Pos vertel.

Hulle het self die Kersboom afgekap en dan met liggies versier. Die Kersgeskenke het deurentyd onder die boom “verskyn” en op Oukersaand was die hoogtepunt wanneer geskenke oopgemaak is.

“Oupa het dan die Kersboodskap uit die Bybel voorgelees en ons het almal saam Kersliedere gesing,” het sy vertel.

Die strate was mooi versier en hulle het deur die dorp gery om al die liggies te bewonder.

Kersoggend het hulle die erediens bygewoon en later gesmul aan die heerlike geregte wat die tafel laat kreun het. Die middag is afgesluit met koffie of haar ouma se spesiale gemmerbier en Kerskoek. “Ons het ook in die Vaalrivier gaan swem en in die waterleivore voor die huis gespeel.

Dit was ’n fees,” het Elsa met groot verlange gesê.

Related Articles

Back to top button