Local news

Dié passievolle mense is gereed om te werk oor Kerstyd

Die Waterberg maak staat op toerisme vir oorlewing en daarom bly die meeste winkels en -sentrums oop tydens die feesseisoen.

Fanie Pretorius, Jumas Sekuriteit.

Natuurlik is supermarkte en motorhawens se deure heeljaar oop. Dokters en nooddienste staan ook gereed vir enige gebeurlikheid tydens die feesseisoen terwyl
sekuriteitsfirmas gemoedrus bied.

Dr. André Ebersohn, beter bekend as die plaasdokter van Modimolle, is een van die mense wat hierdie feesseisoen aan diens sal wees. As mediese dokter is hy gewoond daaraan om tye te werk wanneer die meeste mense ontspan. Hy het twee jaar gelede in Desember 2020 van Gauteng na ’n plaas net buite Modimolle verhuis.

“Ek voel werklik geseënd om in hierdie skouspelagtige omgewing te woon. Dit voel asof my huis in die Tuin van Eden staan. Ek het nie die behoefte daaraan om iewers anders heen te gaan vir vakansie nie,” het hy gesê.

Dit is selfs moontlik om vroegoggend en laatmiddag wildritte op die plaas te onderneem.

Volgens Ebersohn was die oorspronklike eienaars natuurliefhebbers met ’n groot liefde vir inheemse bome. Die plaaslike dendrologiese vereniging het onlangs 114 boomsoorte in die tuin, wat 1,3 ha beslaan, geïdentifiseer waarna hulle die ooreenstemmende naamplaatjies met die botaniese, Engelse en Afrikaanse name aangebring het.

Buiten sy mediese praktyk is hy ook betrokke by sy seun, Louis, se sakeonderneming, African Wildlife Security, wat gevorderde veiligheidsoplossings aan wildsboere bied

Hy en sy seun se verloofde, Corlia, beplan om ’n voortreflike Kersete voor te sit aangesien hulle albei lief is vir kosmaak. Ongelukkig woon sy ander drie kinders te ver om net vir Kersdag hierheen te reis.

Inwoners van Modimolle ken die vriendelike eienaar van Hunky Dory, ’n kleurvolle geskenk- en koffiewinkel in die hoofstraat.

Ursula van Staden het in 2016 saam met haar gesin na Modimolle verhuis en hierdie winkel geopen wat allerlei snuisterye, heerlike tuisgebakte snoepgoed, asook klere en skoene verkoop.

Kliënte kan ook sit en ’n ordentlike koppie boeretroos saam met ’n ligte ete of smullekker fyngebak geniet nadat hulle inkopies doen.

Sy vertel die winkel was die afgelope ses jaar slegs op die openbare vakansiedae (25 en 26 Desember en 1 en 2 Januarie) in die feestyd gesluit. “Hierdie is ’n bedrywige tyd met talle toeriste wat die winkel besoek, maar ons geniet dit om in ’n vakansiedorp te woon,” het sy gesê. Albei hul families woon te ver om Kersdag saam deur te bring.

“Dit is ons gesin se Modimolle-tradisie om op Kersdag vroegoggend kerk toe te gaan waarna ons ’n piekniekmandjie boordensvol pak en die hele dag by die Weesgerus-vakansieoord gesellig saam kuier as gesin. Daar is altyd kouevleis en broodrolletjies, ’n verskeidenheid slaaie, waatlemoen en snoepgoed in ons piekniekmandjie. Die manne sal natuurlik braai ook,” het sy laggend vertel.

“Gelukkig is die 24ste vanjaar op ’n Saterdag. Die winkel sluit dus om 13:00 waarna ons die res van die middag by Weesgerus sal swem en ontspan. Die drie seuns — 24, 20 en 16 — geniet dit om aktief te wees en te swem, het sy gesê.

Jumas Sekuriteit het geen bekendstelling nodig in Modimolle nie, want hulle reaksiespanne is altyd gereed in tye van nood. Fanie Pretorius, operasionele bestuurder en gekwalifiseerde speurder, vertel dat hy die afgelope vyf jaar elke Kerstyd aan diens was.

“Hoewel ons gewone personeelskofte werk, is ek maar altyd op bystand wanneer hulle my nodig het,” het hy gesê.

Pretorius en sy seun, Francois (24), werk albei vir Jumas Sekuriteit en hy verduidelik dat hierdie werk sy passie is.

“Dit gebeur soms dat ek en my seun albei uitgeroep word. Dan sit my vrou, Caren, ongelukkig alleen by die huis op Kersdag. Ek weet dit is vir haar swaar, veral omdat haar familie baie ver woon in Noord-Wes, maar sy kla nooit nie.”

Volgens hom is sy vrou ’n bobaaskok en maak sy graag al die tradisionele geregte soos gestopte kalkoen, beestong, skaapboud, pastaslaai of aartappelslaai met die heerlikste yskasterte vir nagereg. Vir Kersdag word daar laatmiddag gebraai en gesellig saam gekuier, sonder alkohol, op die stoep.

Hy vertel die feesseisoen is gewoonlik baie besig, want inbrake by huise en sakeondernemings kom gereeld voor. Daar is ook heelwat insidente waar mense wat onder die invloed van drank of dwelms is, begin hand uit ruk of moeilikheid maak. Jumas bied ook hulp tydens groot motorongelukke om die verkeer rondom die toneel te reguleer.

Wim Wagner is ’n opgeleide en ervare paramedikus wat sedert 2018 in Modimolle as mediese konsultant werk. Hy is 24-uur beskikbaar om pasiënte tuis by te staan met enige mediese noodgeval. Hy vertel dat hy oor die feesseisoen gereeld uitgeroep word vir hartaanvalle of beroertes. Hy bied ook raad en bystand aan mense wat erge pyn ervaar.

“Soms is dit nie nodig om ’n ambulans te ontbied of hospitaal toe te gaan nie, dan help ek die pasiënt tuis.”

Daar is gewoonlik ook voorvalle van huishoudelike ongelukke met geringe tot ernstige beserings.

“My vrou, Maryka, staan al vir 16 jaar aan my sy en ondersteun my in hierdie uitdagende beroep wat nie gewone kantoorure het nie,” vertel hy.

Hul twee seuns, onderskeidelik 7 en 12 jaar, hou haar voltyds besig wanneer hy nie tuis is nie.

Vir Oukersaand word die boom mooi versier met liggies en geskenke. Ouma en Oupa sal vanjaar kom kuier en hulle sal gesellig kuier om die braaivleisvuur. Kersdag verloop rustig en etes word beplan rondom die meerderheid se voorkeure.

Wagner vertel dat hy op 11-jarige ouderdom, tydens sy eerste noodhulpkursus by die Voortrekkers, besef het dit is wat hy vir die res van sy lewe wil doen. Hy het ná skool ambulans- en brandweeropleiding voltooi waarna hy vir baie jare as paramedikus by Netcare gewerk het. Hy het ook vir bykans 12 jaar in verskeie Afrikalande gewerk as gesondheidskonsultant.

Related Articles

Back to top button