Local news

Tyd vir saamwees en feesvier

Ho, ho, ho ... die feesseisoen het kom aanklop en ons het die deur wawyd oopgemaak.

Dit is nou ook vir Die Pos se personeel tyd om vir eers hul skoene uit te skop en die jaar saam met hul geliefdes af te sluit.

Die jaar 2022 was ’n lang een wat talle hoogtepunte opgelewer het soos die viering van Die Pos se 40ste bestaansjaar in Oktober. Die klein koerant met die groot hart bedien die gemeenskappe van Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong, Vaalwater, Settlers, Koedoeskop en Mokopane.

In 2022 is Covid-19 op die agtergrond geskuif. Die pandemie wat in 2020 die mensdom onkant gevang het, het die hele wêreld se ekonomie laat tuimel en talle sakeondernemings se kele afgesny. Hier op die platteland het werkloosheid en armoede hoogty gevier en geliefdes is ook aan die dood afgestaan. In 2022 kon ons maskers afhaal en wegbêre, emosie wys en die skoner geslag kon weer die lippe rooi maak.

Vir die skoolkinders was 2022 die jaar waarin alle aktiwiteite weer volstoom by skole hervat is. Daar is gesing op pawiljoene en meegeding op die sportvelde. Die kultuuraktiwiteite het ook vanjaar weer tot hul reg gekom.

’n Hoogtepunt was die goeie reën wat mildelik gedurende die jaar uitgesak het. Talle damme se sluise is oopgemaak en die Nylrivier het ná jare se droogte behoorlik uit sy nate gebars. Dit is veral die boere wat gejubel het oor die genadewater van Bo.

Maar o wee, net toe die lig helder in die tonnel begin skyn het, sit ons elke dag vir ’n paar uur kragloos in die donkerte. Beurtkrag is deel van ons dag se beplanning en ’n nimmereindige uitdaging wat swak dienslewering op die voorgrond plaas.

Die damme is vol, maar die kragonderbrekings sorg vir droë krane, want daar kan nie water na die suiweringsaanlegte en reservoirs gepomp word as daar nie krag is nie.

Die blaps van die jaar is beslis die Suid-Afrikaans gebore aktrise Charlize Theron se uitlating dat net 44 mense nog Afrikaans praat en die taal aan die uitsterf is. Dalk was dit beurtkrag hier en het sy daar vanuit Hollywood in ons donkerte net 44 mense getel.

Met al die land se probleme weggebêre in ons agterkoppe fokus ons egter nou in die feestyd op die goeie, want ons kan saam met ons geliefdes en naastes kuier.

Kerstyd is sinoniem met somer, son en saffier. Die Pos-familie verwelkom dus al die besoekers wat hier kom kop skoonmaak. In die Bosveld groet die warmte van die goudgeel son jou vroegoggend en soek jy ’n groen skadukol onder die pragtige bome. Daar word ook gesmul aan ’n bloedrooi waatlemoen en saans word gesellig om ’n Bosveldvuur gekuier.

Op Kersdag is ons feestafel gedek vir ’n Christusfees en met al die lekkertes voor ons kan ’n mens sommer nabetragting hou oor wat jy in 2022 agterlaat. Ons koester al die hartvat-
oomblikke en dink ook aan diegene wat nie vanjaar aan ons tafel sal aansit vir ’n feesmaal nie.

Wanneer die klokke op 31 Desember om middernag lui is 2022 plat op sy rug. Daar is dan nie meer ’n omdraai en op ou voetspore terugloop nie. Gaan 2023 opgewonde binne en maak dit jou beste jaar ooit!

Die Pos wens al ons lesers en kliënte ’n geseënde Kersfees en voorspoedige Nuwe Jaar toe. Ons sê dankie vir julle ondersteuning. Mag julle die Kerstyd met oorgawe en dankbare harte vier en nie vergeet waaroor Kersfees werklik gaan nie.

Ons kantore open weer op Vrydag 6 Januarie 2023. Soos altyd sal ons daar wees om ons lesers ingelig te hou met vars gemeenskapsnuus wat inlig, vermaak en opvoed.

Die Pos salueer ook al die manne en vroue in uniforms wat langs die paaie, in dorpe en in hospitale diens doen in die feestyd. Vir almal wat in die Kerstyd op die land se paaie reis, wees veilig.

As jy vanjaar in Jan Tuisbly se Karretjie ry, slaap laat, lag uit jou maag en wees lief vir jou hartsmense.

Related Articles

Back to top button