Local news

Kersherinneringe word knus gekoester

Wanneer die feesseisoen aanbreek, dink ’n mens onwillekeurig aan jou mooiste Kersfeesherinneringe.

Daardie spesifieke dag, geleentheid of samesyn, dra jy saam met jou en deel dit ook soos die jare verloop met jou geliefdes. Die Pos wou by sewe van Mokopane se vlytige vroue hoor watter herinneringe hulle koester.

Janine Jacobs.

Janine Jacobs, verkoopskonsultant wat ook haar eie klere- en bykomstighede-winkel bedryf:

My mooiste Kersherinnering was toe ek nog ’n klein dogtertjie was. Ek onthou my ma het via die huistelefoon vir my ouma ons afmetings vir nuwe rokke gestuur. My ouma het vir al haar kleinkinders rokke of hemde gemaak. Ek kan onthou die knope was vir my en my sus baie belangrik. Dit moes ’n blommetjie of iets soos ’n aarbei wees. Ons het Kersdag in my ouma se huis in Pretoria deurgebring. Ouma het dan vir almal hul rokke of hemde gegee. Ons kon nie wag om dit aan te trek nie en daar is foto’s op die grasperk buite geneem. Kleintyd se Kersfees was spesiaal, want jy het nog niks geweet van probleme nie en kon na hartelus baljaar.

Merene van Zyl.

Merene van Zyl, afrigter van die Marshall Gymnastics Academy:

Ek het op ’n plaas in die Karoo grootgeword. Die beste Kersfees was die keer toe ons so baie reën gekry het dat ons nie dorp toe kon ry om daar te gaan Kersfees hou nie. Ons gesin se saamwees daar in die plaashuis was spesiaal. As dit reën in die Karoo kom die riviere af en maak dit nie saak dat jy dit wat op die dorp gebeur, misloop nie. Jy is net dankbaar vir daardie reën. Ons moes maak werk met wat ons op die plaas gehad het. Dit was kosbaar.

Lida Genis.

Lida Genis, jukskeispeler van die Tarentaalspan:

My mooiste herinnering is toe ons as gesin verlede jaar saam aan die Kerstafel gesit het. Ons het Kersfees by my skoonma se huis in Die Oog-aftreelandgoed gevier. Dit was net voordat ons seun, Evert, en sy vrou, Leandré, na Australië verhuis het. Dit was kosbaar, want ek weet nie wanneer ons hulle weer sal sien nie. Ons het heerlik geëet en gelag en die hoofdoel was die samesyn en ’n ware Christusfees.

Mariana van Tonder.

Mariana van Tonder, bestuurder van die Piet Potgieter Monument-ouetehuis:

My mooiste Kersherinnering was ’n vakansie saam met my gesin in Jeffreysbaai. My drie kinders het die Kersstafel gedek met alles wat hulle op die strand kon kry. Dit was ’n kosbare samesyn met branders wat breek in die agtergrond. Ons het op die seewoonstel se stoep gesit en gekyk hoe die klappers op die strand geskiet word.

Surita Oosthuizen.

Surita Oosthuizen, bemarker van Hoërskool Piet Potgieter:

God het die wêreld so lief gehad dat hy Sy enigste gebore Seun as geskenk vir ons gegee het. Daarom kan ek nie ’n spesiale Kerstyd uitsonder nie. Elkeen saam met my gesin is vir my spesiaal. Dit is wanneer ons as gesin en ook ander familielede onder die peperboom bymekaar kom om nie net God se liefde nie, maar ook ons liefde vir mekaar te vier. Ons sê dan dankie dat ons nog gespaar is om saam daar te wees. Dit is nou oupa, ouma, kinders en kleinkinders en ook al die ooms en tannies. My wens is dat almal oor die hele wêreld liefde sal ervaar soos wat ons Oosies oor Kerstyd ervaar.

Yolande Coetzee.

Yolande Coetzee, Demokratiese Alliansie-raadslid:

My gunstelingherinneringe is my twee kinders se gesiggies kleintyd wanneer Kerstyd aanbreek. Die opgewondenheid en uitsien is baie spesiaal. Ons gesin is tradisievas en het Kerskouse wat gevul word. Ons versier ook die Kersboom saam. Toe hulle klein was, het my dogtertjie altyd koekies gebak en my seun moes ’n stukkie kaas en melk voor die Kersboom kry. Ons het ook briefies vir Kersvader gepos en die gesin gee handgemaakte geskenke vir die bure en vriende net om te sê: Geseënde Kersfees.

Jolandi Fourie.

Jolandi Fourie, joernalis en ma van twee woelwaters:

Ons hele familie — oupa, ouma, ooms, tannies, niggies en nefies — kuier op die familieplaas in die Vrystaat onder die groot, groen bloekombome. Die jonges speel krieket en swem in die sementdam. Die ander sit en klets en ons almal smul aan Ouma se gebak. Op Kersdag sit ons aan vir ’n feesmaal. Oupa lees uit die Bybel en ons sing Stille Nag. Dan word die geskenke uitgedeel. Kersfees is vir my sinoniem met samesyn en koester. Wat ’n voorreg!

Related Articles

Back to top button