Local news

Stukkende transformators uiteindelik herstel

Transformators wat al etlike jare stukkend is, is herstel danksy die knap werk van ’n barmharmtige Samaritaan van Mookgophong.

Johan van Wyk het sy kragte met die hoof van elektrisiteit by die munisipaliteit in die dorp, William Mangana, saamgesnoer en die transformators wat al jare lank stukkend is, herstel.

Van Wyk is ’n gekwalifiseerde elektrisiën wat baie goeie kennis het van werk aan hoogspanningslyne.

Volgens Antoinette Wagener, DA-raadslid, het Van Wyk aangebied om die elektrisiëns by te staan met raad en sy kundigheid om die transformators te herstel en nou hoef daar nie weer rondgeskarrel te word as een van die transformators onklaar raak nie.

Johan van Wyk, ’n inwoner en elektrisiën van Mookgophong, saam met DA-raadslid Antoinette Wagener. Van Wyk help die munisipaliteit om stukkende transformators te herstel vir hergebruik.

Wagener sê hul hande was afgekap omdat hulle nie die nodige kennis of vaardighede het om transformators te herstel nie. Hy het hulle geleer om toerusting te toets en foute te identifiseer en dan met die minste ontwrigting te herstel.

“Van die amptenare het gesê hy is baie behulpsaam en hulle het baie wenke by hom gekry hoe om foute te herstel.”

Transformators wat in die verlede onklaar geraak het, is net vervang.

“Die transformators het letterlik in die wind en weer gestaan en as ek navraag gedoen het, is ek ingelig dat dit nie herstelbaar is nie,” het Wagener gesê.

Sy het gesê van die transformators kos tot soveel as R130 000 per eenheid. Van Wyk en Mangana werk nou saam om die toerusting te red en teen ’n fraksie van die prys te herstel sodat dit weer in die stelsel aangewend kan word.

Sy het Van Wyk namens inwoners bedank.

Related Articles

Back to top button