Local news

Jong hoenderboere verras bejaardes

Daar is baie Suid-Afrikaners wat hierdie tyd van die jaar moed verloor en daarom is mense-stories van hoop en deursettingsvermoë iets om te koester, soos in die geval van Duan Lewis (24) en Shané Coetzee (23), twee jong hoenderboere van Bela-Bela.

Die paartjie beplan om oor vyf maande te trou en het besluit om nou reeds hul volle gewig in hul boerdery op hul plaas, Gideons Rus in die Noodhulp-omgewing, te gooi.

“Lewis-boerdery het in Augustus 2020 begin met slegs een haan en vyf henne. Vandag het ons meer as 100 hoenders. Duan is tydens die Covid-19-pandemie gedwing om sy landboustudies voorlopig te staak. Hy het egter sy tyd goed aangewend en die neskaste, kampe en stofbaddens self gebou,” het Shané vertel.

Hulle boerdery het binne maande begin floreer en hulle was in staat om eiers en hoenders te verkoop. Hoewel hulle aanvanklik slegs aan familielede voorsien het, het hul voorraad gou opgehoop en het hulle begin om produkte aan liefdadigheidsinstansies te skenk.

Hulle het op Woensdag 30 November 180 eiers aan die Warmbad Rusoord-tehuis vir bejaardes geskenk.

“Hoenderboerdery het sy uitdagings, want ons boer op ’n wildsplaas en daar is altyd die gevaar van roofdiere en siektes wat die hoenders kan beïnvloed. Duan het gelukkig goeie kennis van hoe boerdery werk. Ek help tans met die bemarking en verpakking. Ek het ’n groot passie vir fotografie en pas tussen al die boerderyverpligtinge tyd in om foto’s te neem.”

“Dit is belangrik om daaglikse statistiek van die boerdery by te hou en ook om te weet hoeveel eiers elke hen lê. Die aantal kuikens wat uitbroei moet ook aangeteken word.”

Sy sê hulle het destyds van Pretoria na Bela-Bela verhuis op soek na beter geleenthede en stabiliteit.

“Dit is nie deesdae maklik vir jongmense om werk te kry nie, maar Duan en ek het ’n passie vir ons boerdery ontwikkel en vul mekaar baie goed aan. Ons wil dit ’n sukses maak,” het sy gesê.
Duan, wat sukkel met sy gesondheid, het intussen ’n landbou-kwalifikasie deur Agriskills in Cullinan behaal.

“Ek noem hom Tarzan, want hy loop altyd kaalvoet en is nie bang vir werk nie. Hy is ongetwyfeld ’n boskind, volbloedboer en diereliefhebber. Hy het van jongsaf nie teruggedeins vir slange nie. Hy hoop om eendag ’n reptielpark hier te ontwikkel.”

Hulle beplan om in 2023 bykomende en groter hoenderhokke te bou en die boerdery uit te brei.

Die paartjie wil ook graag terugploeg in die gemeenskap en skenk van hul produkte aan minderbevoorregte inwoners. Hulle het ’n sagte plek vir die karwagte wat van vroeg tot laat ’n ondankbare, maar eerbare werk verrig.

“Ons is dankbaar ons het ’n dak oor ons kop, ’n bord kos om te eet en warm badwater. Hoenderboerdery is nes enige ander boerdery ’n voltydse werk. As jy die tyd goed aanwend, bereik jy sukses. As die Here wil, sal ons in die toekoms ons produkte aan winkels kan verskaf.”

Related Articles

Back to top button