Local news

Vragmotor beland op die sypaadjie

“Dit het alles so vinnig gebeur,” het verdwaasde werknemers van Supa Quick vertel nadat ’n agttonvragmotor vroegoggend onverwags op die sypaadjie reg voor die werkswinkel omgeslaan het.

Die ongeluk het omstreeks 07:45 op die R101-deurpad (Thabo Mbeki-rylaan) gebeur. Dit is net verby die Modi Mall-winkelsentrum op pad uit die dorp uit in die rigting van Phagameng.

Volgens ooggetuies het die wit Isuzu-vragmotor in die regterkantste baan van die dubbelpad gery toe ’n wit enkelkajuit Toyota-bakkie aan sy linkerkant van baan wou verwissel en die vragmotor teen die voorwiel aan die passasierskant getref het.

Die vragmotorbestuurder het vermoedelik beheer verloor en reg oor die pad teen die aankomende verkeer ’n kragpaal op die oorkantste sypaadjie getref en omgeslaan. Een van die oorhoofse kragkabels is deur die vragmotor afgeruk en het aan die bakwerk vasgesit.

Só lyk die skade aan die tweede voertuig, ’n wit enkelkajuit Toyota-bakkie, wat betrokke was in die ongeluk.

Fanie Pretorius, operasionele bestuurder van Jumas Sekuriteit, het aan Die Pos vertel dat hulle die ongeluk gedeeltelik op een van hul veiligheidskameras vasgevang het. Hy en hul reaksie-eenheidlede is na die ongelukstoneel om hulp te verleen. Volgens Pretorius het die vragmotorbestuurder net geringe beserings opgedoen.

“Die vragmotor het die pad gedeeltelik versper en dus moes ek en my kollegas die verkeer reguleer sodat ander voertuie nie nog ’n botsing veroorsaak nie,” het hy gesê.

Hy het gesê hy moes die omstanders, wat orals op die toneel in die pad gestaan het, gevra het om weg te beweeg om die gevaar van nog ’n ongeluk te verminder.

Die Toyota-bakkie, wat by die Engen-motorhawe tot stilstand gekom het, is deur ’n plaaslike insleepdiens weggesleep. Die naam van die motorbestuurder is nie bekend nie, maar hy is na verneem word ongedeerd.

Volgens ooggetuies behoort die vragmotor aan ’n maatskappy van Pretoria wat badkamertoebehore soos baddens en toilette vervoer. Hulle het dit eers laatmiddag kom verwyder. Dit is nie bekend hoeveel skade aan die vragmotor aangerig is nie.

Related Articles

Back to top button