Local news

Kom kuier saam by die Liggiefees

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle ondergaan elke Desember ’n skouspelagtige gedaanteverwisseling wanneer al die skitterblink Kersfeesliggies aangebring en aangeskakel word.

Selfs beurtkrag kan nie die liggies uitdoof nie, want die kragopwekker op die perseel voorsien genoeg krag sodat die liggies, asook die kosstalletjies en die Abraham Koffiehuis, soos normaal kan voortgaan.

Die Lumenfees, of Liggiefees soos dit bekendstaan, word vanjaar vir die vierde keer aangebied en al het die reën sommige aande ’n demper op die pret geplaas, is die bywoning deurgaans baie goed.

Gerda van der Merwe (hoof) het aan Die Pos vertel dat plaaslike sakeondernemings van die strukture waarop die liggies aangebring word geborg het. Daar is ook vanjaar meer liggies aangebring.

Daar heers ’n gesellige en gemoedelike atmosfeer tydens die Liggiefees by die kinderhuis. “Al ons toegewyde personeel en kinders werk saam sodat ons fees ’n sukses kan wees,” het sy gesê.

Die fees duur tot Saterdag 24 Desember met verskeie kunstenaars wat sommige aande optree. Daar word ’n laservertoning beplan vir Saterdag 17 Desember, asook Kersliedere-by-kerslig op Sondag 18 Desember.

Die Abraham Koffiehuis, wat ’n jaar gelede sy deure in ’n splinternuwe perseel op die kinderhuis se terrein geopen het, is ’n wonderlike toevoeging. Hoewel dit baie ure se harde werk en talle opofferings geverg het, is almal trots op dit wat hulle binne een jaar vermag het.

Volgens Van der Merwe is daar baie inwoners wat graag op Sondae daar gaan middagete eet. “Met die rugbyseisoen was die grootskerm-rugby-en-braai-aande ’n treffer,” het sy gesê. Daar word ook gereeld kinderpartytjies op Vrydae en Saterdae gehou, asook ander spesiale geleenthede deur die week.

Die kinderhuis ontvang ’n beperkte subsidie per kind vanaf die departement van maatskaplike dienste wat ongeveer ’n derde van die werklike uitgawes om die kinders te versorg, dek. Die tekort word deur donasies, skenkings en talle fondsinsamelingsprojekte deur die jaar aangevul. Die stygende brandstofprys, asook koste om kragopwekkers vir lang ure te gebruik weens verlengde beurtkrag, plaas ook ekstra druk op hul begroting.

Van der Merwe verduidelik dat dit soms moeilik is om geskikte personeel en kinderversorgers aan te stel weens die fisieke- en emosionele aard van die werk. “Ons werk hier met gebroke kinders wat aan baie trauma blootgestel is en daar is ongelukkig beperkte hulpbronne in die provinsie vir berading en terapeutiese insette,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat hulle geseënd is om vrywilligers uit die gemeenskap te hê wat dien op die kinderhuis se beheerraad. “Hierdie bekwame mense wend hul tyd en kundigheid aan tot voordeel van die kinderhuis. Ds. Wollie Wolhuter, voorsitter, is ’n sprekende voorbeeld van die Christelike waardes wat ons hier by die kinderhuis uitleef,” het sy gesê.

Die Liggiefees strek tot Saterdag 24 Desember en alle inwoners van die omgewing word hartlik uitgenooi om dit te ondersteun. Toegang beloop R10 per persoon en enige donasies is welkom.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button