Local news

Swaershoek beplan weer ’n gesellige Geloftefees

’n Geloftefeesviering vind vanjaar weer op Vrydag 16 Desember aan die voet van die Swaershoekberg in Rankins Pas plaas.

Die Swaershoek-terrein is in 1960 deur die grondeienaar, Hendrik de Wet, vir Geloftefeesvieringe geskenk waar mense bymekaar kan kom om in dankbaarheid te ontspan en ’n terugblik op die Afrikaner se geskiedenis te hê.

Die organiseerders beplan om vanjaar weer ’n gesellige geleentheid te hou waar mense in die lowerryke natuur kan kamp. Die nodige geriewe sal beskikbaar gestel word.

Besoekers kan reeds op Donderdag 15 Desember vanaf 17:00 lekker saam kom kuier.

Hamburgers en koeldrank sal verkoop word, maar besoekers is welkom om self te braai ook.

Die Geloftefeesprogram begin om 09:00 op Vrydag 16 Desember met ’n opening en vlagseremonie.

’n Gedenksalvo van voorlaaiers en ’n kanon sal afgevuur word waarna spreker Jeanne Wentzel oor die geskiedenis sal uitbrei.

Die diens begin om 10:00 en sal gelei word deur ds. Roelf Smit van die Afrikaanse Protestante Kerk in Thabazimbi. Besoekers sal ná die diens boeretroos en beskuit kan geniet waarna die samesang en feesrede, aangebied deur Louis Trichardt, voorgedra sal word.

Die verrigtinge word om 12:00 afgesluit met ’n ete. Feesgangers kan hul eie mandjies kouevleis en slaaie met mekaar deel.

Die Swaershoek-perseel se afrit is 40 km vanaf Modimolle na Vaalwater aan die linkerkant geleë.

Volg die grondpad deur Alma na Rankins Pas, verby die polisiestasie en die winkel.

Draai regs in die Jan Trichard’spas-pad, ongeveer 2 km vanaf Rankins Pas.

Die feesterrein is 5 km verder aan die linkerkant aan die voet van die bergreeks.

Vir navrae kan mense 083 235 2457, 082 762 1772 of 079 872 0530 bel of ’n WA-boodskap stuur.

Related Articles

Back to top button