Local news

Splinternuwe winkelsentrum in die omgewing

Inwoners van Mookgophong het ’n paar weke gelede met groot nuuskierigheid die gewerskaf van groot grondverskuiwingsmasjinerie net buite die dorp op pad na die warmwaterbronne, dopgehou.

Ná maande se bespiegelings het dit nou aan die lig gekom dat ’n splinternuwe winkelsentrum eersdaags die lig sal sien.

Demetri Kyriacou, ontwikkelaar, is ’n boorling van die dorp en is reeds agt maande besig met die beplanning van die inkopiesentrum.

Die Pos het met Kyriacou gesels om meer uit te vind oor wat inwoners te wagte kan wees by die nuwe sentrum.

“Hoewel ek nie tans hier woon nie, is Mookgophong steeds my tuisdorp en wil ek graag vir die inwoners iets bied wat tot hul voordeel strek,” het hy gesê.

Die Maroela Lifestyle-sentrum sal volgens beplanning in Junie 2023 sy deure open. Volgens Kyriacou is die ankerwinkel ’n bekende winkelgroep wat in voedsel spesialiseer. Ander winkels sal onder meer ’n apteek, selfoonwinkel, braairestaurant en ’n pizzaplek wees. Daar sal ook kantoorruimte beskikbaar wees.

Die ontwikkelaar van die winkelsentrum, Demetri Kyriacou.

Die sentrum sal sy eie sonkrag opwek en volgens hom het hy voorsiening gemaak vir voldoende water vir die sentrum en ook 410 huise in die aangrensende residensiële uitbreiding.

Hy is baie geesdriftig oor die uitbreiding en glo dat inwoners hom sal ondersteun al is dit 1,2 km buite die sentrale dorpsgebied.

Sy ouers het in 1960 van Cyprus na Suid-Afrika gekom en hulle in die dorp gevestig.

Hulle het die Springbok Kafee bedryf en Demetri vertel dat hy trots is om te sê dat die dorp en omgewing in sy are bruis. Hy is ook ’n trotse oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom waar hy in 1996 gematrikuleer het.

Verskeie ander ontwikkelings is ook onderweg in die dorp, maar die ontwikkelaars wou in hierdie stadium nie kommentaar daaroor lewer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button