Local news

Judy Spies word onthou as ’n sterk vrou

Die Bela-Bela-gemeenskap het op Vrydag 2 Desember met skok verneem van die omgee-vrou, Judy Spies (87), wat ná ’n kort tydjie in die Unitas-hospitaal in Pretoria oorlede is.

Sy is op Woensdag 30 November in Pretoria opgeneem vir behandeling nadat sy erge buikpyn ondervind het.

Haar seun, Pieter Arlow, het gesê sy ma het kort voor haar gastroskopie-prosedure nog grappies vertel en dit het daarna gelyk asof sy gou sal herstel.

Sy het egter verlede week asemhalingsprobleme ontwikkel en is kort daarna oorlede.

Die presiese oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie, het Arlow gesê.

Spies is in 1935 in Pretoria gebore en was die oudste van vyf dogters van Piet en Bessie Claassens.

Sy het haar laerskoolloopbaan by Suid Skool in Salvokop voltooi en was daarna in Hoërskool Langenhoven in Pretoria.

Sy wou ná skool verpleegkunde studeer, maar het haar as argitek bekwaam. Sy het vir verskeie argitekte gewerk en was bekend as ’n ervare argitekstekenaar.

Spies is getroud met Phillipus Arlow, maar hulle is later geskei. Uit hul huwelik is sewe kinders gebore. Sy het later met André Spies, wat reeds oorlede is, in die huwelik getree.

Spies het deur die jare twee van haar kinders, Lize en Victor, aan die dood afgestaan.

Sy het haar loopbaan in die planne-afdeling by Yskor in Thabazimbi afgesluit. Familie sê hoewel sy afgetree het, het sy nie uitgetree nie en sy het haar harde werk in die gemeenskap voortgesit.

Sy het begin om liefdadigheidswerk te doen en is gekies as die eerste vroue-president van die Lions Club in Thabazimbi. Sy was veral ’n uitmuntende spreker, organiseerder en steunpilaar in haar gemeenskap.

Sy het in 1985 na die destydse Warmbad (nou Bela-Bela) verhuis.

Haar familie sal haar onthou as ’n kleurryke, eksentrieke, kreatiewe en karaktervolle mens.

Hoewel sy klein van gestalte was, het daar ’n sterk en nederige Christenmens in haar groot hart gebly.

Een van haar kleinkinders het haar as ’n gebedskryger beskryf en gesê hulle is geëerd om familie van hierdie formidabele vrou te wees.

Haar laaste woorde aan haar familie was vir gebed en dat sy hulle in liefde groet.

Sy laat haar twee susters, Petro de Klerk en May Botha, asook haar seuns en dogters, Edna Burger, Carol van Wyk, Phillip, Bobby, Pieter Arlow, asook haar skoondogters- en seuns agter.

Sy was die gelukkige ouma en oumagrootjie van 14 klein- en 15 agterkleinkinders.

Die familie bedank graag vir Carol en Martin van Wyk wat Spies in haar laaste lewensjare ondersteun het, en ook vir past. Jonathan Mouton van die AGS kerk en Elri Arlow wat altyd daar was vir haar ouma en elke familielid.

’n Spesiale dank gaan aan Ina Mulder, haar persoonlike hulp van die laaste jaar, asook aan dr. Gerhard Grobler wat haar huisdokter was.

Haar begrafnis vind op Saterdag 10 Desember, vanuit die AGS Kerk in Bela-Bela plaas.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button