Local news

Oop kaarte: Geen troebelwater vir dié knap vrou

“Dit is ná al die jare steeds vir my lekker om die kinders se gesiggies in die water dop te hou. Hulle straal en geniet elke oomblik.”

Só gesels Nicoline van Zyl, eienaar van die Natspat Swemakademie in Bela-Bela vanoggend al borrelend oor haar passie vir swem.

’n Mens besef die noodlot loop vreemde draaie met ’n mens as Nicoline vertel sy het haar man in 2007 in ’n motorfietsongeluk verloor het.

“Ek was swanger en moes hard dink en uitspring om die pot aan die kook te hou. Ek het toe die geld wat ’n polis uitbetaal het gebruik om die swemskool te begin. Swem is nie net wonderlike oefening nie, maar ook terapeuties.”

Desiré Schoeman leer jong swemmers oor waterveiligheid.

Nicoline sê die swemgogga het haar kleintyd reeds gebyt. Sy het ná skool in die regte en ook in sportwetenskap gestudeer, maar dit gestaak en haar liefde vir swem haar loopbaan gemaak.

“Ek het eers kinders opgelaai en hulle in verskeie inwoners se swembaddens geleer swem totdat die geleentheid hom voorgedoen het om my eie onderdak verhitte swembad te bou.”

Toe Covid-19 sy intrek by ons geneem het, het Nicoline met die hulp van haar skoonma ’n bussie aangeskaf en nou laai sy meestal die kleuters en laerskoolleerders op en af terwyl Desiré Schoeman en Amoné van Niekerk in die water is om die jongelinge te leer swem. Die swemskool is kleurvol versier met polistrieen seediere wat van die dak af hang oor die swembad en teen die mure pryk watertonele wat enige jong swemmer gou tuis sal laat voel. Daar is tans 180 swemmers wat elke week touwys gemaak word.

Nicoline van Zyl, eienaar van die Natspat Swemakademie in Bela-Bela.

Dit is nie net die kleuters en laerskoolleerders wat hier soos visse deur die water klief nie, maar sy het ook ’n klas waar die ma’s saam met hul babas in die water klim om hulle waterveilig te kry.

“Desiré gee ook soggens waterfiksheidsoefeninge vir ’n groep vroue. Daar is twee klasse en laatmiddag bied Rhönel Pienaar ook ’n klas aan.”

Benewens swem, is Nicoline in hart en siel ’n diereliefhebber en sy vertel sy wil alles gesond dokter wat mank is of ’n af vlerk het.

“Ek is in 2013 weer getroud. My man, Frikkie, is ’n siviele ingenieur wat eers elke dag tussen Bela-Bela en Pretoria gependel het, maar nou hier sy eie onderneming bedryf. Ons het drie kinders — twee seuns en ’n dogter.”

Dan verras sy my.

“Soggens boer ek. Ek het Bonsmara-beeste en hoenders. Daar is vier groot hoenderhokke op die plaas met 600 hoenders in elkeen. Die hoenders word na ’n slagpale geneem sodra hulle markgereed is. Ek het 25 beeste en verkoop die bulletjies,” vertel sy laggend.

Dit hou nie daar op nie, want Nicoline het perde, donkies, eende, ganse, kalkoene en nie minder nie as 10 honde nie.

“Dan is daar ook een vet vark, skilpaaie, kokketiele, budgies en ’n hok vol hase.”

Ek word weer verras toe sy opgewonde vertel sy bedryf ’n onderneming met die naam Borrow a bunny.

“Mense bel en dan lewer ek ’n mak hasie in ’n hok met saagsels by hul huise af vir hul kinders om mee te speel. Ná ’n week laai ek die hasie weer op. Dit gebeur dikwels dat die kinders só geheg raak aan die hasie dat hulle besluit om die hasie te koop.”

Nicoline bieg sy het ook ’n groot liefde vir tuinmaak.

“Ek kan eenvoudig nie verby ’n kwekery ry, sonder om eers stil te hou nie. Mooi blomme is my swakpunt. Ek stop ook dikwels by ’n mooi tuin in die dorp en gesels met die eienaar. My gunstelingblom is ’n statige, spierwit varkoor.”

Ons stap na buite en sy wys na die verskillende groene van die bome en die blomme.

“Dit is duidelik as jy om jou kyk dat ’n Hoër Hand alles so perfek geskape het.”

’n Wit mini-bus waarop daar in helder kleure vrolik geverf is, staan voor die hek.

“Ek wou eers die swemskool se bussie gaan bêre het, maar dit is so mooi en gewild onder die swemmers dat ek besluit het jy moet dit eers sien.”

Dan gaan staan die aantreklike vrou ewe trots by die deur aan die bestuurderskant sodat ek ’n foto kan neem.

• Ouers wat hul kinders waterveilig wil kry of leer swem, kan gerus vir Nicoline ’n Whatsapp of SMS stuur by tel. 081 443 8967.

Related Articles

Back to top button