Local news

DA stig nuwe tak in Bela-Bela

“Ons het geleer uit die verkiesing. Ons plaas nou ons hoop op die inwoners en ondersteuners wat wil saamwerk, ten spyte van die plaaslike politiek.”

Só het Desirée van der Walt, LP en die DA se kiesafdelingshoof, gesê tydens die Demokratiese Allianse se onlangse takstigting in Bela-Bela.

Daar was nooit voorheen ’n DA-tak in die dorp nie en daarom is daar besluit om dit op Maandag 28 November te doen aan huis van DA-raadslid Rika Kruger. Sowat 20 mense het die stigtingsvergadering bygewoon.

Die DA het bloedneus in Bela-Bela gekry tydens die uiters belangrike tussenverkiesing op Woensdag 16 November, maar die party beskou hulself steeds as baie aktief en relevant.

Die VF Plus het 915 stemme behaal en die DA slegs 546 stemme. Slegs 1 568 uit die 3 697 geregistreerde kiesers het aan die verkiesing deelgeneem.

Van der Walt het gesê indien minder mense in die nasionale verkiesing in 2024 hul kruisies gaan trek, voorspel dit uitdagende tye om die ANC uit die kussings te lig.

“Alle meningspeilings dui daarop dat die ANC ondersteuning verloor. Die opposisiepartye sal dan moet saamwerk om die mag uit hul hande te neem. Dit kan slegs gedoen word deur stemme.”

Met die DA se federale kongres wat in Maart 2023 plaasvind, is die DA in die proses om inwoners wat aktiewe rolspelers in hul gemeenskap is, in takverband te betrek.

Johan Mills, DA-raadslid, is as die DA-takvoorsitter in Bela-Bela verkies terwyl Rika Kruger, ook ’n DA-raadslid, as die voorlopige ondervoorsitter verkies is. Maria du Preez sal in Januarie dié posisie inneem. Neeltjie Behrens is as sekretaris verkies.

“Die DA is nie daar om onnodig met ander te baklei nie. Die taklede en vrywilligers sal van hierdie punt af oplossings vir elke probleem in hul gebied soek en mense en hulpbronne betrek wat tot voordeel van hul gemeenskap sal wees,” het Van der Walt gesê.

Related Articles

Back to top button