Local news

Man dood nadat weerlig hom tref

’n Man van Bela-Bela het op Vrydag 18 November op ’n tragiese manier gesterf toe hy deur weerlig getref is.

Die man is geïdentifiseer as Frans Lefoka wat by die Albany-bakkery gewerk het.

Donker wolke het die middag teen ongeveer 14:00 oor die dorp gehang. Hoewel die weerburo reën voorspel het, was daar eintlik min druppels, maar baie donderweer en weerligstrale. Die selfoonnetwerke is ook geraak deur die weer.

Volgens die polisie het Lefoka en nog mense die middag in ’n oop stuk veld by die Sun Valley-omgewing van die Bela-Bela-township gestap.

Omstanders het ’n harde slag gehoor en toe vir Lefoka op die grond gesien lê. Daar het rook uit sy klere gekom.

Hy is op die toneel dood voordat mediese hulp kon opdaag, het die polisie gesê.

Volgens ooggetuies is twee ander mense ook deur die weerligstraal getref. Hulle het behandeling ontvang, maar is reeds ontslaan.

Die Pos het in ’n vorige uitgawe die volgende inligting van Dr. Ryan Blumenthal, ’n internasionaal erkende weerligkenner, geplaas indien donderstorms ’n gebied tref:

  • Soek dadelik skuiling binne ’n gebou — nie ’n tent, afdak of hut nie.
  • Moenie teen of naby ’n boom probeer skuiling soek nie, want weerlig tref altyd die hoogste punt wat die boom kan wees.
  • Moenie swem tydens donderstorms nie.
  • Moenie in ’n oop stuk veld loop waar jy die hoogste punt is nie.
  • Moenie op ’n trekker, fiets, motorfiets, donkiekar of perd ry nie. Klim liewer af en hou laag tot die weer verby is.
  • Moenie tuingereedskap, gholfstokke, of metaalvoorwerpe (sambrele) tydens hewige donderweer buite ronddra nie.
  • Hou troeteldiere binnenshuis.
  • Kontak nooddienste onmiddelik wanneer iemand deur weerlig getref is.
  • Weerlig kan ’n hartaanval, skok of brandwonde veroorsaak. Pas eerstehulp toe tot mediese dienste opdaag.

Related Articles

Back to top button