Local news

Grootvoete stap vir groot saak

Die wêreldwye stryd om kanker te oorwin verg baie navorsing en het groot finansiële implikasies.

Inwoners en besoekers aan die Zebula-gholflandgoed buite Bela-Bela het op Saterdag 19 November aangemeld om aan die Adventures with Elephants-olifantreservaat se Big Walk Against Cancer-staptog deel te neem.

Die organiseerders se doelwit is om bewusmaking van kanker by kinders te bevorder en geld in te samel om jong kankerlyers te ondersteun.

“Ons wil met hierdie poging ’n klein verskil maak in die lewens van kankerlyers. Wonderwerke is moontlik,” het Adele Thys Smit van Adventures with Elephants gesê.

Deelnemers het die oggend by die Zebula-klubhuis byeengekom waarna hulle op ’n staptog deur die Zebula-natuurreservaat gegaan het. Die olifante het vooruit gestap.
Aan die einde van die roete, by die olifante se watergat, kon deelnemers hul dors les met heerlike koue water ná ’n warm dag onder die Bosveldson. Stappers kon ook ’n kersie aansteek om meelewing met kankerlyers te toon.

Die olifante het vanuit hul geliefde watergat die gaste aanskou en ná hul heerlike modderbad saam met hul hanteerders in die bosse verdwyn.

“Bydraes van die staptog word aangewend vir die 30 kinders wat tans in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria kankerbehandeling ontvang. Ons wil iets lekkers vir hulle gee sodat hulle vir ’n oomblik kan glimlag en die lewe geniet.”

Smit het vertel die organiseerders het onlangs kankerlyers by die Unitas-hospitaal in Pretoria besoek saam met Adventures for Elephants se gelukbringer Ellie.

Smit sê hulle nooi weekliks terminaal siek kinders en hul ouers na die olifantreservaat om ’n sprankel in die kinders se oë te bring as hulle die olifante se manewales gade slaan.

“Die kinders se ogies skitter nie meer nie, want hulle voer ’n stryd om oorlewing. Ons was stomverbaas oor die groot aantal kinders wat met dié gevreesde siekte worstel.”

Adventures with Elephants het hande gevat met liefdadigheidsorganisies soos Reach for a Dream en Communities in Harmony Advocating for Learning and Kids (CHALK).

“Ons neem deel aan aanlynprojekte by skole om kinders van kanker bewus te maak. Verskeie kinders wat aan kanker ly voel verwerp in hul skole en word soms gespot. Gesonde kinders moet ingelig word oor die stryd waardeur hul maats gaan en liewer ondersteuning bied.”

“Ouers moet bewus wees van die moontlikheid dat hul kinders kanker kan kry. Kenners is van mening dat gewone griep, keelseer of ’n aanhoudende gehoes dadelik mediese aandag moet kry.”

Die organiseerders beplan reeds ’n groot geleentheid vir Februarie 2023. Hulle vertrou dat meer besoekers saam met die olifante wil stap.

Related Articles

Back to top button