Local news

Oop kaarte: ’n Man met ’n visie vir die toekoms

“Mense het in my belê. Ek is net die werker, die ou vir wie hulle sê ons wil hê jy moet die werk doen,” vertel Jeedee Cloete, nuutverkose wyksraadlid van Wyk 1.

Hy kuier vanmiddag hier by Die Pos en daar is geen ink op sy duim wat wys hy het op Woensdag 16 November in die tussenverkiesing in Wyk 1 gestem nie.

“As jy vir jouself stem, dan is jy eintlik mos bang. Bang dat jy met een stem kan verloor. My kruisie mag nie die verskil maak nie. Die mense moet genoeg vertroue in my hê. As ek gisteraand met een stem gewen het, sou ek nie kon slaap nie.”

Stem die mense nie vir jou én die party waarvoor jy staan nie, vra ek. “Nee, nee jy is heeltemal verkeerd. In die nasionale verkiesing stem hulle vir die party. In hierdie plaaslike verkiesing stem jy vir Jeedee Cloete. Dit gaan oor die persoon wat die werk doen saam met die party se waardes en beginsels.”

 

Die gesinsman vertel hy en sy lewensmaat, Liandra, is nie getroud nie, maar hulle is toegewyde ouers vir hulle drie dogters. Liandra en hy werk ook saam by die drukkery wat hulle bedryf. “Ek het ’n ongelooflike ystervrou. Dit vat ’n saamwerkpoging om te kon doen wat ons reeds gedoen het.”

Ek vra uit oor sy planne vorentoe.

“Ek het die bloumasjien aangevat en hulle laat sneuwel. Ek dink ons kan enigiets bereik en ek sê dit met groot respek. Ons kan saam die dorp weer verander.

Die Whatsappgroep wat ek gestig het, dien as kommunikasie waar die dorp se mense hul klagtes kan bring. Die meer as 450 mense daarop is nie almal VF+ aanhangers nie. Vir my maak dit nie saak nie — as ek jou kan help met ’n probleem wat jy het en dit oplos, het ek my kant gebring.”

Hy skroom nie om te vertel daar is die afgelope jaar baie hard gewerk vandat hy as proposionele raadslid dien nie.

“Ons het ’n redelike standaard daargestel hoe ons dinge hanteer en probleme oplos. Ons het gisteraand nie net een addisionele setel gewen nie, maar 11. Ons het ook die wykraadslidsetel verower en dit beteken ons kry ’n proposionele setel ook. Dan het ons die voorsitterskap van die wykskomitee gevat. Ons het dus 11 mense gewen om ’n verskil in Wyk 1 te maak.”

Hy meen die Demokratiese Alliansie het die dorp die afgelope 28 jaar laat verval toe dit onder die party se toesig was.

“Is ons belange werklik tot die beste van daardie raadslede bestuur?”

Jeedee sê hy moes sy gedagtegang verander toe die stemtellings deurkom. “Ek het skielik besef ek is nie meer alleen nie. Ek het nou ’n wyksraadkomitee waaraan ek verantwoording moet doen. Ek dink ek het al ’n goeie indruk by die komitee gemaak in so ’n mate dat hulle eintlik besef hulle het vir 12 maande geblinddoek deur die lewe geloop. Die komitee is ’n kragtige instrument, dus kan ek nie verstaan hoekom ons wyk só lyk nie. Ons het nou vier jaar om die dorp te verander.”

Jeedee sê hy is nie van plan dat die inwoners sakkies teer moet koop om slaggate te vul nie.

“Jy maak seker dat jy die regte struktuur en ondersteuning kry om die nodige druk op die munisipaliteit te plaas om die werk gedoen te kry. Ek het dit reggekry en nog nie een sent van enigeen gevra vir die projekte wat ek aanpak nie. Mense betaal hul belasting.”

Dan bieg hy: “Ons gaan dalk op een of twee plekke hand in eie boesem moet steek.”

Op ’n ligter noot vertel hy musiek lê hom na aan die hart.

“Ek het nie meer veel vryetyd nie, maar geniet dit om deel van die NG Wes-gemeente se musiekbediening te wees. Dit is vir my lekker. Ek bespeel verskeie instrumente en in die kerk is dit hoofsaaklik klavier, panfluit en soms orrel.”

Met die groet en uitstap besef ek Jeedee is bereidwillig en entoesiaties om ’n verskil in Wyk 1 te maak Hy wil die Sonskyndorp waarin hy gebore en getoë is, saam met die inwoners herstel soos dit was voordat vervalling ingetree het.

Related Articles

Back to top button