Local news

Skok ná bekende dominee se dood

Inwoners van die Waterberg-omgewing het die afgelope week met skok verneem van die dood van ds. Danie Nelson (64), ’n dinamiese, bekende leraar en oud-inwoner van Bela-Bela.

Nelson het homself op Woensdag 16 November in Vryheid, KwaZulu-Natal geskiet. Hy en sy vrou, Petro, het in 2011 na Vryheid verhuis waar hulle in diens gestaan het van die NG Suid-Oos Vryheid-gemeente.

Hy was vanaf 1987 tot 2010 leraar van die NG Moedergemeente in Bela-Bela. In hierdie tyd was hy baie betrokke by die gemeenskap.

Hy het vir meer as een termyn opgetree as voorsitter van Kleuterskool Bosveldspruitjies en ook Laerskool Warmbad.

Nelson was op die uitvoerende bestuur van die Rusoord Ouetehuis en die Christelike Maatskaplike Raad.

Volgens die kerkraad sou hy op Sondag 20 November sy uittreepreek by dié gemeente gelewer het. Hy en sy vrou, wat jare lank ’n apteker in Bela-Bela was, het beoog om terug te trek na Bela-Bela en het reeds begin om hul huis in die dorp op te knap.

Gemeentelede van Bela-Bela en Vryheid het gesê Nelson het ’n buitengewone gawe gehad om jongmense te bemoedig. Hy was onder Warrie-leerders bekend as “Dan The Man” (’n bynaam wat hy met trots gedra het).

“Hy het elke leerder by die naam geken en was ’n geesdriftige ondersteuner langs die sportveld en het kulturele aktiwiteite getrou bygewoon,” het een inwoner gesê.

Nelson het oor die jare die land deurkruis om paartjies in die huwelik te bevestig en oud-gemeentelede se begrafnisse waar te neem.

Talle huldeblyke wat op sosiale media verskyn, toon dat jongmense veral ’n vertrouensverhouding met hom gehad het.

Talle mense het hom as ’n man van insig, wysheid, ’n goeie vriend en puik leraar beskryf. Hy sal ook onthou word vir sy vinnige kwinkslae en vir sy omgee vir die gemeenskap.

Ds. Kokkie Kok, oud-leraar van Bela-Bela, het hom in ’n huldeblyk beskryf as die seun wat hy nooit gehad het nie.

“Dat Danie Nelson die gebroke mense in die wêreld raakgesien en geïnspireer het om in hulself te groei, en dat die werke van die Here duidelik in sy gemeente sigbaar was, strek hom tot eer,” het Kok gesê.

Die Vryheid-gemeente het in ’n huldeblyk geskryf dat sy heengaan ’n enorme leemte in die gemeente laat.

Sy kinders, Madelé Klingenberg, Dané Oosthuizen en Berrangé Nelson, is oud-leerders en was toppresteerders van Laer- en Hoërskool Warmbad, waar hulle ook hoofleierposisies in albei skole beklee het.

Nelson se begrafnis het op Woensdag 23 November vanuit sy huidige gemeente in Vryheid plaasgevind.

Die diens is regstreeks op die kerk se Facebook-blad uitgesaai. Die diens is ook terselfder tyd op die NG Wes-gemeente in Bela-Bela se grootskerm uitgesaai vir plaaslike inwoners.

Related Articles

Back to top button