Local news

Saai verteenwoordig SA-boere by groot beraad

Die familieboernetwerk Saai (South African Agricultural Initiative) sal ’n sentrale rol speel in die onderhandelinge oor klimaatskwessies tydens die COP27-klimaatsberaad wat van 5 tot 27 November in Sharm El-Sheikh, Egipte, plaasvind.

Met Saai se fokus op landbou en voedselsisteme is dit die eerste klimaatsveranderingskonferensie wat sedert 2011 in Afrika plaasvind en meer as 70 landbouleiers van oral in die wêreld is genooi om die geleentheid by te woon.

As verteenwoordiger van Suid-Afrikaanse boere by die wêreldlandbou-organisasie sal Saai ’n leidende rol in die beleidsgesprekke en onderhandelinge oor landboukwessies speel. Die stem van Suid-Afrikaanse produsente sal oor die volgende twee weke in meer as 30 vergaderings gehoor word oor kwessies soos aanpasbaarheid, metaangasvrystelling by herkouers, belastings en tariewe op vleis, wol en vee, koolstofkrediete, nuwe produksietegnologie en naspeurbaarheid van produkte.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is COP27 die eerste klimaatsberaad wat spesifiek op voedselsisteme sal fokus en is dit ’n prioriteit om boere in die middelpunt van beleidsvorming oor klimaatskwessies te posisioneer.

“Vir boere is dit waarskynlik die belangrikste klimaatsberaad ooit,” sê hy.

De Jager dien ook as voorsitter van die Food, Agriculture and Natural Resources Policy Analysis Network (FANRPAN), ’n nie-winsgewende netwerk van Afrika-regerings en steunbasisse wat diplomatieke status in Suid-Afrika geniet en sal ook die FANRPAN-afvaardiging na COP27 lei.

Volgens Francois Rossouw, hoof- uitvoerende beampte (CEO) van Saai, het die Karoo die afgelope agt jaar die ergste droogte ooit beleef. Saam met die ongekende vloede in KwaZulu-Natal het dit opnuut vir Suid-Afrikaanse landbou gewys hoe uitgelewer en kwesbaar boere vir klimaatskommelings is.

“Dit is vir ons as Suid-Afrikaanse boere van kardinale belang dat ons ’n plek om die onderhandelingstafel het sodat ons die boere se belange daar kan stel en verdedig.”

Saai en Akademia beoog om vroeg in 2023 saam ’n klimaatsberaad te organiseer en eg-Suid-Afrikaanse navorsing sal saam met die inhoud van COP27 bespreek word.

Related Articles

Back to top button