Local news

‘Alles onder die ANC is gebroke,’ sê DA se Helen Zille

Die Demokratiese Alliansie (DA) het die groot kanonne op Maandag 14 November by die Tuintuiste-aftreeoord in Bela-Bela nadergetrek om voorbrand vir dié party te maak vir die dorp se tussenverkiesing vir Wyk 1 wat op Woensdag 16 November plaasgevind het.

Helen Zille (DA-federale raadvoorsitter), dr. Leon Schreiber (LP en skaduminister van staatsdiens en administrasie), Liam Jacobs (DA-federale studente organisasie-leier) en Cilliers Brink (LP en skaduminster van samewerkende regering) het sterk menings en planne gehad. Die fokus was veral op die behoud van Afrikaans.

Schreiber het uitgebrei oor die sukses van die DA se veldtogte teen Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, asook Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, wat Afrikaans “op slinkse maniere as ’n ongewenste taal wou voorhou”.

Hy het verwys na pogings om die Afrikaanse-taalmonument se naam te verander, die Stellenbosch-voorval waar ’n student op ’n ander student se eiendom geürineer het en Blade Nzimande se verbete poging om Afrikaans as ’n uitheemse taal te verklaar.

“Afrikaans is inheems en sal altyd ’n plek in die land hê. Ons veg hard vir die behoud van Afrikaans,” het hy gesê.”

Brink het gesê die DA is gekant teen die omstrede Bela-wetsontwerp waarin die mag van beheerliggame ontneem en aan die LUR oorgedra word. Hy het gesê dit is onaanvaar-baar dat toegang tot skole en skole se taalbeleid deur die regering en nie deur beheerliggame bepaal word nie.

Zille het met die gehoor gepraat oor die samesmelting van skole wat misluk om by ’n beter beheerde skool se bestuur in te skakel (wat herhaaldelik gebeur).

“Dit is juis binne hierdie opset wat vooruitgang deur middel van die privaat sektor, kundiges, befondsing en ’n beheerliggaam bepaal word. In ’n beter bestuurde opset kan daar voorsiening gemaak word vir arm ouers ook. Ons het bewys dat daar onder ’n DA-beheerde administrasie regeringsubsidies vir beter gehalte onderrig aan leerders gegee kan word. Skole se taalbeleid en toegangsbeleid moet bewaar word.”

Sy het gesê opposisiepartye sal ná die volgende nasionale verkiesing in 2024 moet saamwerk en verskille bylê indien hulle die ANC uit die kussings wil lig.

Sy sê koalisieregerings is die toekoms en hoop vir die pad vorentoe.

“Daar sal ’n dag kom dat die ANC as ’n onbenullige party gesien word met slegs 1% steun in die parlement. Dit verg harde werk om die sondes van die kaders uit te krap, om mense te mobiliseer en om grondwetlike regte en waardes eerste te stel, maar dit is moontlik. Alles onder die ANC-regering is gebroke.”

Schreiber het gesê die DA gaan in Januarie 2023 hof toe om kaderontplooing as ongrondwetlik deur die hooggeregshof te probeer verklaar.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button