Local news

Sanral se planne kan sakeondernemings knou

’n Dringende vergadering het die afgelope week in Bela-Bela tussen sakelui en verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) plaasgevind nadat sakelui verneem het dat Chris Haniweg se middelman heeltemal toegebou gaan word.

Sanral het reeds in April tydens ’n openbare vergadering by die Bela-Bela-munisipaliteit inwoners van dié planne verwittig. Hulle het geleentheid gegee om binne ’n gegewe tyd insette en besware te lewer.

Sanral is reeds in die finale beplanningsfase om vroeg aanstaande jaar met grootskaalse padopgraderings vanaf Thabazimbi tot in Bela-Bela, Modimolle en Vaalwater te begin.

André van Pletzen van die Bvi Group (’n Sanral kontrakteur) het by die nuutste vergadering herhaal dat die Chris Hani-middelman toegebou gaan word om “verkeersvloei te verbeter”.

Dit beteken dat motorryers nie meer regs in Chris Haniweg sal kan draai nie. Voertuie sal ook nie Chris Haniweg kan kruis nie.

Dit sal tot gevolg hê dat voertuie in die rigting van die verkeersirkel op die Thabazimbi-pad nie meer toegang tot Groblerlaan (die Alma-pad), SuperSpar se hoofparkering, Ritchieweg (suid na die Bosveld Mall), KFC se deurry of enige winkel tot met Potgieterweg vanaf Chris Haniweg sal hê nie.

Die T-aansluiting voor die Warmbad-staatshospitaal bly volgens die planne oop vir verkeer.

Motorryers sal dan slegs dele van die dorp by wyse van die volgende kruisings kan bereik: die verkeersirkel (wat herbou gaan word) in Rooibergweg, Pretoriaweg, Minnaarstraat (vanaf Forever Resorts), Kretzschmarlaan en Potgieterweg.

’n Nuwe verkeersligstelsel sal by die kruising van Minnaarstraat en Chris Haniweg opgerig word.

Sakelui het tydens die jongste vergadering kapsie gemaak teen die voornemende planne. Hulle het benadruk dat dit ernstige finansiële verliese meebring indien sakeondernemings nie vanaf

Chris Haniweg (in die rigting van die verkeersirkel) bereik kan word nie.

Carel Coetzee, Superspar-eienaar, het gesê hy sal na raming 65% van sy klandisie verloor as mense nie die hoofparkering vanaf Richieweg kan bereik nie.

Toegang sal dan beperk wees tot die klein ingang in Minnaarstraat of deur middel van die kleiner parke-
ring in Pretoriaweg.

Coetzee is verder bekommerd dat verkeersprobleme in Lunastraat sal ontstaan indien mense alternatiewe roetes gebruik om by sakeondernemings wat geraak word uit te kom.
Eddie Alberts, bestuurslid van Kwa Pele Foods wat KFC-restaurante landwyd bestuur, het aangedui dat hulle omtrent 40% van hul kliënte sal verloor indien mense nie regs kan afdraai na KFC se deurry nie.

Coetzee is verder bekommerd dat mense wat KFC se deurry wil bereik, Superspar se hoofparkering sal gebruik om toegang tot ander sakeondernemings te in die omgewing te verkry.
Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het gesê die verkeersvloei in Chris Haniweg en ook op die brug in Marx- en Potgieterstraat, is tans oor naweke en in vakansietye baie druk. Hy voorsien dat die dorp se paaie onbegaanbaar sal word as die verkeer slegs deur Pretoriaweg en Potgieterstraat herlei word.

Die swaarvoertuie wat deur die dorp ry om toegang na die N1-hoofweg, Radium op die R101- of die Settlers op die R516-pad te verkry, sal volgens hom verkeersopeenho-
pings veroorsaak. Sanral kon geen alternatief bied vir motorryers wat by verkeersligte in Chris Haniweg stilhou en dan wil omdraai nie.

Sakelui is ten gunste van die opgraderings, maar het ’n dringende versoek gerig dat die planne gewysig moet word sodat geen sakeonderneming in Chris Haniweg finansiële skade ly nie. Die middelman moet verkieslik bly soos wat dit tans is, versoek hulle.

Riaan Oerlemans, Sanral-projekbestuurder, het gesê hy sal die voorstelle in ag neem en ’n opvolgvergadering belê.

Related Articles

Back to top button