Local news

Nuwe lede vir AfriForum-tak vat vas

Die AfriForum-tak in Mookgophong was genoodsaak om op Donderdag 6 Oktober ’n herstruktureringsvergadering, onder toesig van die streekskoördineerder van AfriForum Limpopo, te hou nadat vakatures ontstaan het met die afsterwe van die voorsitter, Lucas Bornmann, en die verhuising van nog ’n bestuurslid.

“Tydens die moeilike tyd ná Bornmann se dood het verskeie lede voortgegaan met plaaslike gemeenskapsdienste en self ook hand bygesit,” het Pieter van der Berg, nuwe voorsitter, gesê.

Elkeen van die nuwe bestuurslede is betrokke by verskeie portefeuljes in die gemeenskap en help waar nodig is. Van der Berg het gesê sy visie vir die dorp is om dit weer as ’n voorkeur veilige bestemming in die Bosveld te vestig en te verseker dat toeriste dit as ’n gesogte vakansiebestemming reken. Besoekers moet uitsien om tyd daar deur te bring. Dit sal die ekonomie van die streek ook ’n hupstoot gee.

“My missie is om die gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder aangesien soveel mense van die gemeenskap geraak word deur swak of geen dienslewering,” het hy gesê.

Hy wil fokus op die verbetering van dienslewering aangesien die dorp baie pensioentrekkers, hulpbehoewendes, verswakte of sieklike inwoners het wat van volgehoue dienste afhanklik is en nie noodwendig ander middele of geld het om alternatiewe reëlings te tref nie.

“Ons mense is geregtig op doeltreffende dienslewering; dus is dit baie belangrik dat mense by AfriForum betrokke raak om as ’n eenheid druk toe te pas op die munisipaliteit. Met ’n groter finansiële basis deur ledegeld kan ons selfstandig projekte aanpak en sodoende die hele gemeenskap ondersteun. Inwoners verwag hulp en optrede wanneer ’n noodsituasie opduik, maar almal wil ongelukkig nie persoonlik betrokke raak nie, wat dit moeilik maak.

Dit sal ook baie help as ons inwoners kan bemagtig. Deel van ons missie is om die gemeenskap betrokke te kry, want hier is soveel kundigheid in die dorp. Ons kan gesamentlik ’n groter bydrae lewer tot die verbetering van ons dorp,” het hy aan Die Pos gesê.

AfriForum se eerste doelwit is om te verseker dat die plaaslike regering nie hul plig versuim wat betref watervoorsiening, doeltreffende bestuur van die rioolaanleg om onwettige rioolstorting te voorkom en die verbetering van die stortingsterrein.

Die tak het ook nou ’n traumabegeleidingsafdeling tot stand gebring wat deel vorm van die nasionale struktuur. Die afdeling sal lede wat trauma ondervind landwyd bystaan.

Indien inwoners betrokke wil raak, kan hulle vir Pieter van der Berg ’n e-pos stuur na: voorsitter.naboomspruit@afriforumtak.co.za of bel hom by tel. 082 442 3410.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button