Local news

Kyk net hoe die Waterberg kan spog met hul kunstalent

Die Waterberg het weer bewys dat hulle nie ’n duit hoef terug te staan vir die “voorwêreld” nie toe Joggie en Eileen Kotze van Thabazimbi hul nuwe kunsgalery op Saterdag 5 November geopen het nie.

Die Pos het daar gaan inloer om te sien wat in die galery te siene is.

Joggie is ’n predikant by die Nederduits Gereformeerde-gemeente op Dwaalboom, maar is ook ’n beeldhouer en kunstenaar. Hy het ’n tentmakerspos by die gemeente en het sedert verlede jaar groot opgang gemaak toe hy sy kreatiwiteit begin uitleef het en kuns uit skrootyster begin skep het.

“Ek was in die staalbedryf en het gereedskap gekoop en verkoop. Ek het soms gedink dat so ’n stuk yster ‘iets’ kon word en het verlede jaar begin sweiswerk doen en beelde geskep,” het hy gesê.

Sy beeldhouwerk is uniek en is tans by verskeie kunsgalerye in Gauteng beskikbaar.

Joggie en Eileen Kotze in hul nuwe kunsgalery in Thabazimbi.

Hy het vertel dat sy vrou, Eileen, hom eintlik aangespoor het om die beelde te verkoop.

“Ek was eers ’n bietjie skepties, maar het gou gevind dat mense dit graag koop en ek hou daarvan om dit te maak,” het hy laggend vertel.

Hy het kunsbloed in sy are en het van kleins af daarvan gehou om kunswerke te maak. Hy het al met verskeie kunsmediums gewerk, maar kon tot nou toe nie sy kreatiwiteit ten volle uitleef nie.

Sedert hy begin beeldhouwerk doen het, is daar geen keer aan sy kreatiwiteit nie.

Dit was nog altyd vir hom ’n droom om ’n kunsgalery te hê en ná Die Pos se besoek, kan ons getuig: hierdie een is spoggerig. Eileen behartig die galery voltyds en hulle het ook verskeie ander Waterberg-kunstenaars wie se werke uitgestal word.

Die bekende Lute Vink van Thabazimbi se natuurgeïnspireerde kunswerke is ook by die galery. “Baie kunstenaars voel soos ek, bang of skrikkerig wat mense sal dink van hul talent en daarom wil ons die geleentheid bied vir Bosveld-kunstenaars om hul werke ten toon te stel,” het hy gesê. Die verkoop van kunswerke gee erkenning aan kunstenaars, maar om jou talent uit te leef, is die belangrikste vir hom.

Sy eerste kunswerk was ’n beeskop uit duisende stukkies staal.

“Ek het vir myself gesê ek moet elke stuk wat ek begin, voltooi. Ek begin met ’n stuk en die beeld ontwikkel soos ek vorder,” het Joggie vertel.

Sy boodskap aan ander kunstenaars is een van hoop en waagmoed. Om die talente wat jy gekry het uit te leef al staan jy in ’n ander beroep.

“Sedert ek kuns begin skep het, is dit die gelukkigste tyd in my lewe. Ek het die beste deel van drie wêrelde: dominee, sakeman en kunstenaar wees,” het ’n optimistiese Joggie gesê.

“Ek is baie trots op my man en ondersteun hom ten volle in wat alles hy doen. Ek wil ook hê dat mense hierheen moet kom om te ontspan en die kuns te geniet,” het Eileen gesê.

Related Articles

Back to top button