Local news

Skete vergete toe enjins begin brul

Die enjins het behoorlik gebrul tydens die Piet Potgieter Monument Ouetehuis in Mokopane se jaarlikse Brille- en Pilledag.

Die oues van dae se pille, pyne en brille was skoon vergete toe sowat 127 motorfietsryers op Saterdag 5 November teen ligdag op hul ysterperde by die tehuis opgedaag het.

Die ryers het elk ’n lapwapen ontvang en ’n heerlike ontbyt saam geëet.

Voordat die motorfietse in gelid deur die strate gery het met van die bejaardes as passasiers agterop die ysterperde en ander inwoners met hul rystoele in die konvooi, het ’n groep geesdriftige drawwers aan ’n kleurvolle ‘Colour Run’ deelgeneem.

Die bejaardes wag geduldig om met hul rystoele by die motorfietsryers aan te sluit.

Die bejaardes het van die stalletjies op die tehuis se terrein beman waar besoekers gesmul het aan allerlei kontreilekkernye. Daar is ook op-en-wakker musiek gemaak deur Archie & GP wat as gaskunstenaars opgetree het.

Mariana van Tonder, bestuurder van die tehuis, bedank almal wat die dag saam geniet het. Die fondse wat ingesamel is, sal nuttig aangewend word om die infrastruktuur van die tehuis op te gradeer, het sy aan Die Pos gesê.

  • Die ouetehuis se gewilde Kersliggiefees skop op Donderdag 1 Desember af. Dan word ’n magdom vrolike gekleurde Kersliggies om die tehuis en ook binne aangeskakel. ’n Kersprogram met verskeie kunstenaars word elke aand tot Saterdag 24 Desember aangebied.

Related Articles

Back to top button