Local news

Honderd kersies van seën vir inwoner

Dit was voorwaar ’n groot fees toe Rika Rischbieter haar 100ste verjaardag op Maandag 7 November by die Residentia Waterberg-aftreeoord in Modimolle gevier het.

’n Groep van die werkers en versorgers het ’n pragtige gewyde Afrika-lied spesiaal vir haar gesing terwyl bykans 30 inwoners van die versorgingseenheid aangedaan geluister het.

Ds. Danie Ueckermann van die NG Nylstroom Oos-gemeente in Modimolle het die verrigtinge geopen met ’n paar woorde en toe ’n seëngebed oor haar gebid. Hy vertel dat Rika sedert sy 14 jaar gelede hierheen verhuis het, ’n getroue lidmaat is. “ Rika het getrou elke Sondag op haar plek in die kerk gesit en was betrokke by die kerk se Senior Aksie wat gereeld byeen gekom het.”

Liz Breitenbach, bestuurder van die aftreeoord, het aan Die Pos vertel dat Rika tot met twee jaar gelede nog op haar eie in een van die woonstelle op die perseel gewoon het.

“Sy was op-en-wakker, het gereeld gestap en selfs haar weeklikse inkopies te voet by die nabygeleë supermark gedoen.”

Haar gesondheid het egter twee jaar gelede ’n knou gekry waarna sy na die versorgingseenheid moes skuif.

Rika woon sedert 2008 by die Residentia Waterberg-aftreeoord in Modimolle toe sy vanaf Port-Elizabeth (nou Gqeberha) in die Oos-Kaap hierheen verhuis het om nader aan haar familie te wees.

“Ek het destyds by my familie, wat op ’n plaas net buite Modimolle gewoon het, kom kuier en só baie van die Waterberg en die Residentia-oord gehou dat ek dadelik my naam op die waglys geplaas het,” het sy vertel.

Sy is nooit getroud nie en hoewel sy die oudste en enigste oorlewende lid is van haar sibbe, kom kuier haar twee susters se kinders en kleinkinders, wat in Gauteng woon, gereeld by haar.

Rika geniet dit terdeë om rugby, sokker en krieket op televisie te kyk en luister graag na ligte musiek oor die radio wanneer sy in haar kamer is.

Almal is dit eens dat haar blymoedigheid, dankbaarheid en positiewe ingesteldheid die rede is dat sy so ’n merkwaardige ouderdom bereik het.

Volgens haar vriende en die personeel by die tehuis groet sy altyd met ’n glimlag en kla sy nooit nie – al ervaar sy soms pyn. Sy is vir almal ’n sprekende voorbeeld van ’n blymoedige mens.

Related Articles

Back to top button