Local news

Hondevriend word gemis ná slangbyt

Daar word na honde as ’n mens se beste vriend verwys en dit is presies ook so vir Paul Meulenbeld, wat onlangs moes afskeid neem van sy geliefde Boris.

Boris, ’n kruising tussen ’n worshond en ’n Jack Russel, is op Maandag 31 Oktober dood nadat ’n swartmamba hom gebyt het. Meulenbeld, ’n inwoner van Droogekloof buite Bela-Bela, het vandeesweek sy hartseer met Die Pos gedeel.

“Ek het Boris omtrent agt jaar gelede by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Pretoria aangeneem. Hy het werklik ’n avontuurlustige lewe gehad.”

Meulenbeld sê Boris was geneig om enige onwelkome dier in die bos uit te snuffel.

“Hy het spoegkobras, pofadders en selfs eenkeer ’n bobbejaan beetgekry. In die dorp was die mense by die VKB-koöperasie altyd opgewonde om hom te sien, want hy het daar muise gehelp vang.”

Meulenbeld, wat by die departement van waterwese werk, vertel Boris was baie keer beseer, het baie siektes opgedoen en is herhaaldelik deur slange beetgekry wat gesorg het dat sy veeartsrekening die hoogte in geskiet het.

Hy vertel dat Boris hom vergesel het op al sy besoeke aan myne in die land.

“Dit was werklik ’n vreugde om hom as geselskap te gehad het. Sy karakter en temperament het natuurlik uit sy gekruisde gene gespruit. Ek het nog vyf ander teefkruisings op my erf wat my waarsku indien daar gevaar is.”

Meulenbeld sê hy sal graag weer ’n worshond en Jack Russel-kruising wil aanneem.

Om Boris se nagedagtenis te bewaar, beplan hy om vir hom ’n klein grafsteen op sy erf in Droogekloof op te rig.

Related Articles

Back to top button