Local news

Bekende meule in Bela-Bela op sy knieë gedwing

"Ons moes die werklikheid sowat vyf maande gelede in die oë kyk. Al wat ons vra, is ’n oop gesprek met die munisipaliteit sodat ons die deure kan oophou."

Talle werknemers van die Brenner Meule in Bela-Bela kan hul werk kwyt wees omdat die meule permanente sluiting in die gesig staar.

“Ons kragrekening beloop maandeliks bykans R500 000 en dit noop ons om sake te heroorweeg en die moontlike sluiting van die meule te oorweeg. Met sulke uitgawes is dit vir ons moeilik om kop bo water te hou,” het Barries Badenhorst, Brenner Meule se groepsbestuurder, aan Die Pos gesê.

Die meule bestaan al meer as 80 jaar in Bela-Bela, het Badenhorst gesê. Twee ander Brenner Brand-meulens word in Makhado en Hammanskraal bestuur, maar word nie geraak deur die situasie in Bela-Bela nie.

Die sowat 70 werknemers se poste is in gedrang omdat die meule volgens die bestuur nie meer ’n wins maak nie. Die grootste faktor wat bydra tot die lae winsgrens is glo omdat die meule maandeliks op piekkragtariewe aangeslaan word. Daar is geen onderskeiding in tariewe vir spitstye van die dag, maand of seisoen nie.

Tientalle werknemers van die Brenner Brand-meule in Bela-Bela staar werkloosheid in die gesig, nadat die bestuur dit bekendgemaak het dat die meule dalk kan sluit.

“Ons word reg deur die jaar teen piekkragtariewe gehef en dit is net nie meer haalbaar nie,” het Badenhorst gesê.

Die werknemers met hul gesinne, asook lojale diensverskaffers en kliënte, sal swaar getref word indien die meule nie verder bedryf kan word nie.

Die meule word in hul maandelikse kragverbruik op munisipale industriële kragheffings aangeslaan.

Volgens die munisipale begrotingsdokumente vir die huidige boekjaar (2022–2023) is die heffings op industriële persele, wat op lae kragkapasiteit funksioneer, ’n basiese heffing van R1902,84, ’n aanvraagheffing teen R233,95 per ampére en ’n energieheffing van R1,68 vir elke kilowatt per uur wat verbruik word.

Die heffings vir persele wat op hoë kragkapasiteit staatmaak, sluit egter ’n basiese heffing van R4508,46 in.

Die aanvraagheffing is R234,75 per ampère en die energieheffing is R1,66 per kilowatt per uur.

Sarah Barnard, bestuurder van die meule, het gesê die realiteit het hulle reeds maande gelede getref en hulle is voortdurend besig om nuwe planne en besparings in werking te stel.

“Ons moes die werklikheid sowat vyf maande gelede in die oë kyk. Ons kon egter danksy goeie bestuur ons verpligtinge tot nou nakom en het geen uitstaande munisipale skuld nie,” het sy gesê. Sy het rekeninge ter stawing aan Die Pos getoon.

“Ons het al verskeie kere die munisipale pad na ons perseel op eie koste herstel. Wanneer ons kragprobleme ondervind, herstel ons ook die fout op eie koste. Ons kom dus die munisipaliteit met welwillendheid tegemoet. Al wat ons vra, is ’n oop gesprek met die munisipaliteit sodat ons ons deure kan oophou.”

Sy sê die meule se bestuur het vroeër na die DA-raadslid Johan Mills uitgereik om die dringendheid van die saak onder die aandag van die munisipale raad te bring.
Mills is reeds etlike jare op verskeie openbare platforms in ’n stryd gewikkel om munisipale heffings vir sakeondernemings aan te pas.

Volgens Mills se berekenings word Brenner Meule dubbel aangeslaan vir elke ton graan wat hulle verwerk.

Industrieë kan in beginsel tydens laer kragverbuiktye (soos in die somertyd) minder betaal, maar daar is tans geen vergunning van die munisipaliteit om die meule op seisoenale basis aan te slaan nie, het Mills gesê.

Hy het gesê buitensporige kragheffings ontmoedig potensiële beleggers om in Bela-Bela geld te bestee. Die bestaande sakelui word ook ontmoedig om hul sakebelange in die dorp voort te sit en uit te brei, sê hy.

Die Brenner Meule-saak het egter nie op Vrydag 4 November as agendapunt op die kwartaallikse munisipale raadsvergadering verskyn nie.

Barnard en Badenhorst het aan Die Pos gesê daar is reeds verskeie gesprekke met amptenare van die munisipaliteit se tegniese afdeling gevoer. Hulle het egter nie terugvoering gekry nie.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, sê amptenare het probeer om die meule tegemoet te kom, maar ’n positiewe uitkoms wat albei partye tot voordeel strek, bly ’n uitdaging.

“Ons weet dat die swak ekonomiese klimaat nie sakeondernemings tans ondersteun nie. Ons weet ook dat van die sakeondernemings noustrop trek. Die probleem is dat ons dorp se kraggradering volgens voorgeskrewe standaarde bepaal word en dat ’n vaste koers vir sakeondernemings gehef word. Daar sal wel ’n opvolgvergadering met die meulebestuur gehou word,” het Moloto gesê.

Die meule se bestuur het gesê indien daar nie baie gou ’n oplossing vir die buitensporige kragrekenings is nie, hulle ’n donker Desember tegemoet gaan.

  • Die Pos het teen druktyd ’n dokument ontvang wat deur die munisipale bestuurder, George Ramagaga, rakende die meule geskryf is.Die meule se dringende versoek is deur die speaker, Nelly Zikhali, ontvang en verwys na die subkomitee vir transformasie, munisipale bestuur, begrotings en tesourie vir verdere beslissing.

    ’n Vergadering tussen amptenare en Brenner Meule se bestuur is vir Dinsdag 22 November geskeduleer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button