Local news

Skok toe weerligstraal bakkie tref

Modimolle het op Maandag 31 Oktober deurgeloop onder ’n hewige donderstorm met hael so groot soos druiwekorrels wat plek-plek neergekletter het.

Die storm, wat omstreeks 13:30 losgebreek het, het met swaar reёn gepaard gegaan. Sowat 38 mm reёn is binne ’n uur in die dorpsgebied gemeet. Weerlig het gelei tot kragonderbrekings in sekere areas.

CJ de Vaal het aan Die Pos vertel dat die weerlig hul werksplek, Granite Cutters, in die nywerheidsgebied van Modimolle getref het.

“Ons het drie skrikwekkende harde slae gehoor waarna ons opgemerk het die veiligheidskameras, wat buite teen die baksteengebou gemonteer is, is uitgeslaan. Niemand kon enige ander skade sien nie; dus het voortgegaan met die werk,” het hy gesê.

Die bakkie het tussen dié twee bome gestaan. Onder kan die skade aan die bakkie duidelik gesien word.

Toe hy egter later die middag omstreeks 16:00 wou huiswaarts keer, het hy gesien iets is fout met sy wit Ford Ranger-bakkie. Ek het dadelik gesien die syspieёl aan die bestuurderskant was stukkend en het gedink dit was dalk kwaaijongens se handewerk,” vertel hy.

“Daar was ’n skerp brandreuk by die bakkie en die vensters was dofgrys; amper asof dit getint was,” het hy vertel. Hy het ook opgemerk die voorruit was gekraak.

“Eers toe ek die bakkie oopsluit, het die reuk van gebrande plastiek my na my asem laat snak. Ek kon nie my oё glo nie. Die paneelbord aan die bestuurskant was gedeeltelik gesmelt, asook die deel waar die sonskerm aan die dak vas is. Al die bedrading by die pedale was pikswart gebrand, asook die rekenaar in die middel van die paneelbord,” het hy geskok vertel.

Dis toe dat De Vaal besef het sy bakkie is deur ’n weerligstraal getref.

Hy het probeer om die motor aan te skakel, maar alles was morsdood. ’n Paar werkers, ook op pad huis toe, het hom gehelp om die bakkie binne-in die stoor te stoot sodat hy dit daar kon toesluit vir die nag.

Hy vertel dat hy oudergewoonte die oggend (31 Oktober) omstreeks 07:00 by die werk aangekom het en sy bakkie tussen twee jong seringbome, sowat 20 m vanaf die gebou, geparkeer het. Daar was niks agterop sy bakkie nie.

“My vrou, Jonita, het ’n tuindiens-onderneming en gebruik gereeld my bakkie, maar op die betrokke dag het sy nie enige kliënte gehad nie, so my bakkie was heeldag by die werk geparkeer,” het hy gesê.

De Vaal en sy vrou woon op die plaas Doorndraai, sowat 5 km buite die dorp. Hy vertel dat hy die bakkie (’n 2017-model) bykans 18 maande gelede aangeskaf het. Dit is hul enigste ryding en word onder meer gebruik om veevoer aan te ry vir hul diere. Sy vrou, ’n diereliefhebber, het ook onlangs twee donkies, genaamd Pudding en Jack, van ’n dierewelsynsorganisasie, Wet Nose, aangeneem.

“Ons is nou gestrand sonder ’n ryding. My vrou het spottenderwys gesê ons moet maar die twee donkies voor ’n donkiekar inspan om oor die weg te kom terwyl die versekering besig is met die saak.”

Die assessor was volgens hom op Maandag 7 November daar om die voertuig te ondersoek sodat die omvang van die skade bepaal kan word.

Intussen maak die egpaar gebruik van saamrygeleenthede saam met familie en vriende.


Tref betyds voorsorg tydens gure weer

Dr. Ryan Blumenthal is ’n internasionaal gerekende kenner op die gebied van weerligpatrone en die trauma van weerlig- en elektrokusieslagoffers. Volgens hul beraming word 240 000 mense wêreldwyd jaarliks deur weerlig getref waarvan 24 000 (10%) sterf. Op hul webwerf (lightningpathologists.com) is die volgende veiligheidsmaatreëls tydens donderstorms nuttig:

  • Soek dadelik skuiling binne ’n gebou (nie ’n tent, afdak of hut nie).
  • Moenie onder ’n boom of teen boomstamme skuil nie, want weerlig kan die boom tref.
  • Moenie swem tydens donderstorms nie.
  • Moenie in ’n oop stuk veld loop waar jy die hoogste punt is nie.
  • Moenie op ’n trekker, fiets, motorfiets, donkiekar of perd ry nie. Klim liefs af en probeer so laag as moontlik sit of lê totdat die storm verby is.
  • Moenie tuingereedskap, gholfstokke of ander metaalvoorwerpe (sambreel) buite rond dra nie.
  • Hou troeteldiere binnenshuis.
  • Kontak nooddienste onmiddelik as iemand deur weerlig getref is.
  • Weerlig kan’n hartaanval, skok of brandwonde veroorsaak — pas eerstehulp toe totdat die nooddienste arriveer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button