Local news

Reën bring vreugde én bekommernis

Die Waterberg is weer sopnat nadat goeie reën die afgelope tyd geval het.

Die haelstorm wat op Maandag 31 Oktober omstreeks 13:30 in Modimolle losgebreek het, het gelukkig nie baie skade aangerig nie. Haelkorrels so groot soos druiwekorrels het neergekletter terwyl ’n stormsterkwind die bome se takke laat dans het. Sekere areas het bykans 40 mm reën gemeet in die uur dat die storm gewoed het.

Ná die storm het die reën effens begin opklaar. Sagte, deurdringende reën het later die aand geval en ’n verdere 30- 36 mm reën is op plekke gemeet.

Reënlelies (Zephyranthes grandiflora) se ligpienk blomme is orals langs die pad en in tuine te sien. Alles voel skoon gewas en die blare van bome en struike lyk groener.

In Bela-Bela en Mookgophong het die reën na die erge hitte ook heerlik uitgesak. Daar is in die laaste week in Bela- Bela tussen 40 en 60mm in verskeie dele gemeet.

Die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging (BBV) is dankbaar vir die goeie neerslae wat die risiko vir veldbrande verminder (sien berig elders).


Reënvalsyfers in Duikerstraat, Modimolle:

• 22 Oktober: 28 mm
• 23 Oktober: 13 mm
• 24 Oktober: 14 mm
• 27 Oktober: 11 mm
• 29 Oktober: 5 mm
• 31 Oktober: 65 mm

Related Articles

Back to top button