Local news

Inwoners ruk woonbuurt self reg

Kinders wat uitgelate en veilig in ’n netjiese parkie baljaar is iets wat ’n mens nie sommer meer sien nie.

Die meeste parke staan verwaarloos en het ’n steen des aanstoots in woonbuurte geword.

In Mokopane (voorheen Potgietersrus) het die inwoners van

Chroompark besluit om hande te vat en pro-aktief op te tree. Die parkie in Kerkstraat spog deesdae met ’n splinternuwe kleurvolle baadjie en lok ouers met kinders om na hartelus daar te gaan uitspan.

Renita Prinsloo, wat in die buurt woon, vertel dit is nie net die parkie wat groot aftrek kry nie, maar die inwoners het ook twee nommerplaatkameras by die ingange na die woonbuurt laat installeer om ongewenste besoekers vas te vat en inbrake te bekamp.

Die inwoners het ná verskeie inbrake besluit genoeg is genoeg. Daar is vergaderings gehou en ’n WhatsApp-groep, Chroom sektor 1, is gestig.

“Elkeen wat hier woon, bring hul kant. So het party van die inwoners dadelik ingespring en die apparate in die parkie geverf en opgeknap. Van die inwoners wat oorkant die parkie woon sorg dat die bome daar water en kunsmis kry. Ons het tot veiligheidskameras in die parkie opgerig, asook borde wat aandui dat daar nie vuurgemaak of leeggelê mag word nie.”

Renita sê die vreugde wat die nuwe parkie bring, is duidelik sigbaar. Naweke kom die kinders daar fietsry, ouers kom span onder die bome uit saam met hul kleingoed en van die inwoners bring hul honde saam vir ’n stappie.”

Daar is ook perde wat een keer per maand na die parkie gebring word waarop die kinders gratis kan ry.

Sy vertel dat daar sedertdien nie meer inbrake in die buurt is nie.

“Benewens die kameras is daar ook 42 radio’s aangeskaf. Dit is nie net om inbrake te bekamp nie, maar ook vir die bejaardes wat hier woon. Indien iemand sou val of in nood is, kan hulle dadelik op die radio hulp vra.”

Die inwoners het ook solarstraatligte op hul eie koste geïnstalleer. As beurtkrag inskop, is die buurt dus steeds verlig en daarby is die inwoners gretig om huispatrollies te ry.

“Daar is egter een goue reël wat nagevolg moet word. Hier groet ons mekaar. Sou jy jou bure in die straat raakloop, is jy verplig om hulle te groet. Dit wakker goeie buurmanskap aan. Die mense hang nou sommer by hul vensters uit om mekaar te groet,” vertel sy laggend.

* Komaan Bela-Bela-inwoners, ons kan beslis by hierdie buurdorp leer. Die parkie in Reitzstraat het ’n dringende opknap nodig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button