Local news

Ag nee, siesa! Modimolle se poskantoor lyk vieslik

Opknappingswerk sou intussen gedoen word, maar ses maande later is daar nog geen teken van enige opruiming of herstelwerk nie.

Die sluiting van die Modimolle-poskantoor se geboutjie wat sowat 1200 posbusse huisves, het tot algehele chaos gelei met die sortering van posstukke.

Inwoners het aan Die Pos vertel dat groot possakke, propvol koeverte, die hele vloer vol staan by die gedeelte waar hulle posstukke moet afhaal. “Ek kry gewoonlik bykans agt vensterkoeverte elke maand, maar toe ek die vorige maand gaan navrae doen, is net een koevert oorhandig. Ek het dit bevraagteken, maar is botweg meegedeel dat daar niks ander pos is nie,” vertel een van die ontstoke inwoners.

Talle mense het bevestig dat hulle voortaan nie weer hul posbusse by die poskantoor gaan hernu nie weens die swak diens.

Die Pos het vroeër vanjaar (13 Mei en 5 Augustus) berig oor die sluiting van die betrokke gebou waarvan die plafon besig was om in mekaar te tuimel. Volgens Johan Kruger, woordvoerder van die poskantoor se hoofkantoor in Pretoria, het die departement van openbare werke die gebou onveilig verklaar en dit op Donderdag 28 April afgesper. Opknappingswerk sou intussen gedoen word, maar ses maande later is daar nog geen teken van enige opruiming of herstelwerk nie.

Die voortslepende probleme met sluipslapers en ander mense wat die gebou as asblik of toilet gebruik, word ook nie aangespreek nie. Daar word al vir jare by die poskantoor gekla oor posstukke, veral by die posbusse in die onderste rye, wat met urine deurdrenk is.

Dit wil voorkom asof daar ook ’n personeeltekort is, want daar is selde meer as een personeellid agter die toonbank om kliënte te bedien. Tydens beurtkrag word daar ook net skouers opgehaal en aan kliënte gesê om later weer terug te kom.

Deel van die poskantoor se uitgebreide diens is die uitreik van voertuiglisensieskyfies wat jaarliks hernu moet word. Hierdie diens word egter ook gekenmerk deur swak kliëntediens en verskonings dat die stelsel of netwerk “aflyn” is, die drukkersink klaar is of dat daar nie papier is nie. Talle kliënte moes al ongedane sake omdraai om op ’n ander dag weer te kom probeer.

Die Modimolle takbestuurder, Isaac Kobe, was nie beskikbaar vir enige kommentaar nie.

Related Articles

Back to top button