Local news

Wees baldadig hierdie somer

Somer in die Waterberg beteken nie net warm dae nie, maar heerlike kuiers onder die koeltebome met vriende en familie.

Ons drink dan lang glase somersdrankies met baie ys en eet eksotiese slaaie en vars vrugte om die somer tuis te laat voel.

Vanjaar is my keuse om ’n baldadige tafel met potte vol blomme te dek om die nuwe seisoen te vier. Nooi jou gaste om ewe kleurvol aan te trek en maak vir elkeen ’n blarekrans om op die kop te dra. Waag ’n bietjie en maak vernuwende smere soos hummus, vars koljanderpesto, geroosterde groenpepersous en gooi handevol bessies in die slaai.

Maak rou groente -en kouevleis op sosatiesstokkies om in die vars sousies te doop. Peuselhappies is altyd ’n goeie keuse en val in almal se smaak. Sodoende kan elke gas rustig kuier en eet soos dit hulle pas. Indien dit ’n spesiale geleentheid is, versier die koek met vars, eetbare blommetjies en strooi dit sommer op die tafel om dit nog meer feestelik te laat lyk.

By die lieflike Ilnika-kwekery van André Pienaar is daar in Oktober ’n pers jakarandamat wat alles net nog mooier maak. Hy en Lizzy Botha tower heerlike eetgoed op en dit laat ’n mens lus voel om sommer op die grasperk te lê met die hoop dat die pers blommetjie op jou kop sal val.

Related Articles

Back to top button