Local news

Wildbedryf pak af by DA-leier

’n Groep rolspelers in die wildbedryf wat meer as 80 000 lede landwyd verteenwoordig het op Dinsdag 25 Oktober hul probleme voor John Steenhuizen, DA-federale leier, in Bela-Bela gelê.

Die saamtrek by die Summerset Place-gastehuis in Bospoort het gesorg vir baie besprekings wat die wildbedryf raak.

Steenhuizen het ’n prentjie geskets oor die politieke speelveld. Daar is talle klagtes oor topamptenare wat beleide vir die wildbedryf bepaal wat nadelig is vir die industrie, het lede op die vergadering gesê.

Steenhuizen het daarop gewys dat dit  algemeen bekend is dat die ANC hul magsmeerderheid ná die 2021-verkiesing begin verloor het. “Die land soek ’n kultuur van nie-rassigheid, ’n vryemarkstelsel en ’n werkende staatsdiens. Niemand sien kans vir nog vyf jaar van korrupsie, misdaad of staatskaping onder hulle nie,” het hy gesê.

“Die party kan dit nie alleen doen nie. Opposisiepartye moenie onder mekaar baklei nie, want dit maak die ANC sterker. Enigiemand wat ’n kitsoplossing vir die probleme bied, jok. dit is juis waarom landsburgers onder ’n nuwe meerderheid op waardes en beginsels aandring. Die ANC het die land, ná amper 30 jaar van leierskap, verdeel.”

Die klagtes vanuit die wildsektore was dat die regering nie biodiversiteit en habitat eerste stel nie en samesprekings met wildboere en verteenwoordigers afskeep met strenger
beleidsraamwerke.

Daar is ook bewerings gemaak dat die regering en sekere opposisiepartye hulle aan die neus laat lei deur wat aktiviste oor die
jagbedryf beweer en dan besluite daaroor neem.

Lede van die Wildlife Ranching South Africa (WRSA) het gevra dat diere vir voedsel, trofeejag en toerisme geteel moet word (die sogenaamde bewaring deur benutting-beginsel) en nie net om in hokke aangehou te word nie.

Die groep het sterk menings gehad dat wetenskap, en nie emosie nie, die toekoms van die wildbedryf moet bepaal.
Steenhuizen het herhaalde klagtes oor die bestaande permitstelsel vir die jag, vervoer, uitvoer en die slag van wilde diere aangehoor. Lede het gevra dat hierdie stelsel hersien of geskrap moet word.

Verder is daar op die vergadering gesê dat die suskes van die bedryf in eienaarskap lê.

Minderbevoorregte gemeenskappe kan voordeel hieruit trek, aangesien die georganiseerde wildbedryf aan hierdie mense diere kan voorsien vir bewaringdoeleindes en om mee handel te dryf.

Daar is egter beweer dat die regering verkies om nie sulke gemeenskappe met kennis of hulpmiddels te bemagtig nie, aangesien arm gemeenskappe vir politieke speletjies misbruik word .

Die lede het versoek dat die moontlikheid ondersoek word om onafhanklik binne die bestaande nasionale beleid te funksioneer en om weg te doen met onbekwame en korrupte amptenare.

Steenhuizen het onderneem om ’n drukgroep bymekaar te bring wat die hele wildbedryf sal verteenwoordig.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button