Local news

Krag en geen water kortwiek inwoners

Groot gedeeltes van Modimolle se dorpsgebied was vir byna 24 uur sonder krag en water nadat ’n onderdeel van ’n minisubstasie onklaar geraak het kort nadat elektrisiteitstoevoer ná beurtkrag aangeskakel is.

’n Inwoner wat naby Hoёrskool Nylstroom woon, het op Sondag 23 Oktober omstreeks 23:30, kort nadat beurtkrag om 23:00 verby was, ’n harde slag gehoor waarna die krag skielik weer afgegaan het.

Die kragonderbreking is die Maandag-oggend (24 Oktober) aan die plaaslike owerheid gerapporteer wat ’n elektriese span uitgestuur het om die fout te soek. Die probleem is by die minisubstasie in Tamsenstraat, ’n blok van die hoёrskool af, gevind waar die een helfte van die skakeltuig (“switch gear”) uitgebrand het.

Wiets Botes, raadslid van Wyk 12 in Modimolle, het sy bes probeer om inwoners wat ná 12 ure sonder krag en water al warm onder die kraag begin raak het, op hoogte te hou van die span se vordering.

Die minisubstasie wat die kragonderbreking veroorsaak het.

Volgens Jones Madisha (afdelingshoof: elektrisiteit) was daar gelukkig ’n spaarskakeltuig in die werkwinkel wat ingespan kon word om die gebrande onderdeel vinniger te vervang aangesien onderdele vanuit Gauteng bestel word.

Die plaaslike owerheid moes egter eers ’n vragmotor met hyskraan huur om die betrokke onderdeel na Tamsenstraat te neem. Die uitgebrande skakeltuig is omstreeks 15:30 verwyder waarna die spaaronderdeel eers teen 17:00 in plek was. Hierna moes die span begin met die tydsame proses om die gebrande kabels en koppelstukke te vervang.

Verheugde inwoners het gejuig toe hul kragtoevoer kort ná 23:00 (beurtkrag was van 21:00 – 23:00), op Maandag 24 Oktober herstel is.

Hoewel sommige gedeeltes van Wyk 11 en 12 in die dorpsgebied wel elektrisiteit gehad het, buiten wanneer beurtkrag ingeskop het, was daar geen watertoevoer nie. Gedeeltes van Bosveldsig, wat aan dieselfde kragnetwerk as die Koro Creek-gholflandgoed gekoppel is, het ook krag gehad, maar krane was kurkdroog aangesien die pompstasie by die hoёdruktoring in Njalastraat buite werking was weens die langdurige kragonderbreking.

Inwoners het aangemeld dat die reservoir op die hoek van Gholf- en Olienhoutstraat omstreeks 07:30 op Maandagoggend (24 Oktober) begin oorloop het en sodoende het duisende liters skoon drinkwater langs die R101-deurpad afgeloop.

Volgens die munisipale woordvoerder gebeur dit dat die reservoir oorloop tydens beurtkrag of kragonderbrekings omdat die water nie na die reservoir by Bosveldsig gepomp kan word nie.

Ontstoke inwoners wou weet hoekom die owerheid nie die nodige kundiges inkry om met oplossings vorendag te kom sodat kosbare drinkwater nie so vermors word nie. Voorstelle is gemaak om ten minste net die water te benut deur die watertenker, wat daagliks in die Phagameng-township rondry, vol te maak. Selfs die brandbestrydingsvoertuie kan volgemaak word.

Inwoners is van mening dat hierdie situasie met genoegsame beplanning rondom beurtkragskedules en mannekrag beter bestuur kan word deur die owerheid sodat drinkwater nie vermors word nie.

Related Articles

Back to top button