Local news

Somer is nie ’n tyd vir luiwees

Terwyl baie leerders uitsien daarna om luilekker langs ’n swembad of iewers by ’n kampeerplek te ontspan tydens die komende somervakansie, is daar ander wat woeker met hul talente en beoog om praktiese werksondervinding op te doen.

Die Pos het met ’n paar leerders van Hoërskool Nylstroom gepraat oor hul vakansieplanne die einde van die jaar:

Gavin Smith (gr.11) sal vanjaar besoekers aan die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle se Kersfees-liggiefees verwelkom en ook werk as kelner by die Abraham Koffiehuis tydens die fees.
Agmat Benjamin (gr.10) is ‘n vriendelike kelner wat die meeste naweke en skoolvakansies by die Wimpy in Modimolle werk.
Debbie Vermeulen (gr.10) is dol oor kleuters en peuters. Sy werk reeds op Saterdae by die Brakanjan-kleuterskool in Modimolle en beplan om ook deel van haar Desembervakansie daar te werk.
Wiehann Sauer (gr.11) geniet dit om tyd in die natuur deur te bring en gaan gedurende die skoolvakansie in die Nasionale Krugerwildtuin kampeer.
Karabo Molamodi (gr.11) het leeuemoed en beplan om gedurende die Desembervakansie na leeuwelpies en ander diere by die Mystic Monkeys Wildlife Sanctuary (naby Pienaarsrivier) om te sien.
Junior Sebake (gr.11) is ‘n kranige atleet wat soveel moontlik geld bymekaar wil maak vir aanstaande jaar se atletiekseisoen. Hy gaan gedurende die Desembervakansie by ‘n  groot supermark in Midrand werk.
Matsobane Boshomane (gr.11) is ‘n gebore entrepreneur met ‘n karwas-onderneming wat hy vanaf sy ouerhuis in Modimolle bedryf. Hy en twee werknemers was elke naweek voertuie en verkoop ook roomys.

Related Articles

Back to top button