Local news

Reënweer laat inwoners sonder krag

Die reën is uiteindelik hier, maar dit het ook vir erge diensleweringprobleme gesorg en die inwoners van Bela-Bela raadop en gefrustreerd gehad.

Sover bevestig kan word het drie transformators in die Bospoort-omgewing verlede naweek die gees gegee weens weerlig en harde reënbuie. Eskom het ook verlede week Vlak 4-beurtkrag ingestel, wat die dorp oor die naweek vir langer tye sonder krag gelaat het.

’n Ander oorsaak van die kragprobleme was die vermeende diefstalpoging van ’n kragkabel in die Jinnah Park-gebied tussen Saterdag en Sondag.

Volgens ’n Bela-Bela-polisiewoordvoerder registreer die polisie elders aanhoudende sake waar noodsaaklike infrastruktuur beskadig of gesteel word.

Tussen 6 en 18 Oktober is R500 000 se koperkomponente by die kragsubstasie in die Bela-Bela-township, asook by die aanleg by die ou skougronde op die R516-pad buite die dorp, gesteel.

Selfoongebruikers oraloor het ook tussen 14 en 18 Oktober uiters beperkte selfoondiens ervaar.

Diewe het klaarblyklik 300 l diesel vanuit die kragopwekkers by die seltoring gesteel wat ook by die ou skougronde staan. Verder is daar herhalende klagtes van wonings waar koperpype gesteel word, veral in die township en in afgeleë gebiede, het die woordvoerder gesê.

Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, het gesê dit lyk asof diewe tydens beurtkrag die Jinnah Parkkabel probeer stroop het.

“Ek het meer as 20 oproepe die Sondag vanaf 01:00 na amptenare probeer maak. Dit was ’n uitdaging om hulle op te spoor. Die eerste munisipale tegniese span het eers om 07:00 na Bospoort uitgery.”

Hy het vertel dat hy ook die munisipale kliëntedienssentrumnommer geskakel het wat inwoners moet gebruik in die geval van
diensleweringsprobleme.

Ongelukkig, met geen krag en geen van die munisipale kragopwekkers wat ooit aangeskakel was nie, was dié lyn ook buite werking.

Munisipale tegnici was teen druktyd steeds besig met die probleme in Bospoort. Die Jinnah Park-kabel is reeds herstel met die hulp van plaaslike elektrisiën Valley de Sousa en sy span.

“Wat my veral gepla het was dat daar Saterdag laatnag geen water beskikbaar was nie. Dit is asof die munisipaliteit dit nie wou prioritiseer nie. Die transformatorprobleme kon werklik verhoed gewees het as hulle maar net ’n instandhoudingsplan kon wys,” het Cloete gesê.

Verder is daar nog geen inligting beskikbaar of die munisipaliteit kragopwekkers gaan bekom om tydens kragonderbrekings die waterinfrastruktuur aan die gang te hou nie.
Cloete sê hy is bly dat die kragprobleme wat jare lank in Noodhulp ondervind is, veral wanneer swaar reënval ervaar word, aansienlik minder is as voorheen.

“Daar is koppe wat moet rol. Die gemeenskap sal betrokke moet raak en stemme dik maak teen die gebrek.” Hy het gesê ’n gemeenskapsveldtog word beplan.

Die Pos het teen druktyd geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

Related Articles

Back to top button